Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Tameletjie: Duanne of Theunis?

Ofskoon die Proteas se keurders verras het met die keuse van die 23-jarige Zubayr Hamza, gaan daar min verrassings in die beginspan wees vir die eerste kriekettoets teen Pakistan later vandeesmaand.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat die Cape Cobras-kolwer die beginspan sal haal vir die kragmeting wat op die dag ná Kersfees begin.

Duanne Olivier. Foto: Gallo Images

Die enigste werklike onsekerheid in die elftal is dieselfde tameletjie wat die span sedert die uittrede van Jacques Kallis in 2014 steeds trotseer. En dit is die vraag: Moet jy sewe kolwers of vyf spesialisboulers in die beginspan kies? Jy kan beslis nie albei hê nie.

Die Proteas het die laaste paar jaar meestal met slegs vier spesialis-boulers gespeel, maar daar is altyd die versoeking om ’n ekstra naatbouler te kies. Veral as ’n mens Dale Steyn se onlangse beseringsrekord in ag neem, is dit ietwat van ’n waagkans om net met vier boulers te speel.

Duanne Olivier is terug in die Proteas se groep in die plek van die beseerde Lungi Ngidi en sal speel mits die keurders besluit om eerder die kolflys meer lyf te gee.

Dié blitsbouler van die Vrystaat het tot dusver ’n ietwat wisselvallige toetsloopbaan gehad. Ofskoon sy 17 paaltjies hom elk gemiddeld net 23.11 lopies gekos het, het hy gesukkel om ’n werklike indruk te maak.

Hy is egter tans baie goed op dreef in die Mzansi-superliga (MSL). ’n Mens kan natuurlik nie T20- en toetskrieket met mekaar vergelyk nie, maar jy kan wel sien dat ’n bouler se ritme goed is en dat hy fisiek baie goed lyk.

Theunis de Bruyn. Foto: Gallo Images

Ngidi het sy knie beseer op die onlangse toer na Australië en sal vir sowat drie maande buite aksie wees.

In die Proteas se laaste toets in Julie, teen Sri Lanka in Colombo, het hulle wel met ’n ekstra kolwer gespeel. Theunis de Bruyn het toe op nr. 3 gekolf en ’n puik honderdtal in uiters moeilike toestande aangeteken.

Dít behoort in sy guns te tel wanneer die elftal vir die toets in Centurion gekies word.

Daar is egter kommer oor sy fiksheid nadat hy hom vroeër vandeesweek weens ’n rugbesering aan die res van die MSL onttrek het.

Die vroeë prognose is dat hy sowat ’n week voor die eerste toets weer reg sal wees.

As die Proteas besluit om met sewe kolwers (waarvan een die paaltjiewagter Quinton de Kock is) te speel, is die kolflys redelik voorspelbaar. Dean Elgar en Aiden Markram sal die beurt begin met De Bruyn en Hashim Amla op 3 en 4. Faf du Plessis en Temba Bavuma sal dan die middelorde voltooi, met De Kock wat op nr. 7 gaan kolf.

Dít is ’n redelike sterk kolflys, maar een wat die laaste paar jaar gesukkel het om groot tellings daar te stel.

Teen Pakistan se gevaarlike boulaanval gaan die Proteas juis nie kan bekostig om wankelrig voor die penne te wees nie.

Indien die Proteas vir Olivier as ’n vierde naatbouler in hul elftal insluit, sal De Bruyn waarskynlik die kolwer wees wat in die slag bly.

Toetsgroep: Faf du Plessis (k), Hashim Amla, Temba Bavuma, Theunis de Bruyn, Quinton de Kock, Dean Elgar, Zubayr Hamza, Keshav Maharaj, Aiden Markram, Duanne Olivier, Vernon Philander, Kagiso Rabada, Dale Steyn.

Meer oor:  Zubayr Hamza  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Duanne Olivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.