Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Veelsydige vertoning beklink stryd

Derde T20-stryd in Belfast

Suid-Afrika 189/2

Ierland 140/9

• SA wen met 49 lopies

Temba Bavuma se 72 Saterdag teen Ierland in Belfast is sy hoogste telling in internasionale T20-krieket. Foto: Gallo Images

’n Indrukwekkende veelsydige vertoning het die Proteas gehelp om die derde T20-stryd teen Ierland met 49 lopies te beklink.

’n Goeie kolfvertoning is opgevolg deur ’n gedissiplineerde boulvertoning. Die Proteas het die reeks met 3-0 beklink.

Ierland, wat die teiken gestel is om die hoogste telling van die reeks aan te teken – 190 – het paaltjies met reëlmaat verloor en het nooit werklik die wenteiken bedreig nie.

Suid-Afrika het ’n hele gros van sy eerstekeuse-boulers – Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi – laat rus, maar die tweede linie het hul goed van hul taak gekwyt.

George Linde (2/21) en Wiaan Mulder (2/10) het uitgeblink met die bal.

So goed soos die Proteas vertoon het in die reekssege met 3-0, moet ’n mens ook erken dat Ierland nie veel weerstand gebied het nie. Sy boulers het met tye uitgeblink, maar sy kolwers kon nooit die mas opkom nie.

Een van die Proteas se groot haakpunte in witbalkrieket is dat hulle te veel staatmaak op Quinton de Kock se breë kolf. As De Kock die dag nie die mas opkom nie of nie speel nie, dan voel dit of daar bitter min momentum is.

En dit het Saterdag weer só gelyk met die paaltjiewagter wat ’n blaaskans gegee is.

Reeza Hendricks en die kaptein, Temba Bavuma, het die beurt begin, maar het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom. Die aanvangspaar het slegs 35 lopies in die kragspel aangeteken. Ná 10 boulbeurte was dit slegs 63.

Die twee kolwers het daarna die krane oopgedraai.

Die vennootskap het in die 16de boulbeurt tot ’n einde gekom op 127.

Hendricks (69 van 48 balle; 7x4, 1x6) was die eerste slagoffer. Bavuma (72 van 51 b. 6x4, 2x6) het uiteindelik sy beste peil ten toon gestel.

David Miller het die fondament benut en het 36* van net 18 balle teen die einde gemoker. Hy het egter ’n dyspierbesering in die voorlaaste boulbeurt van die Suid-Afrikaanse beurt opgedoen en sy deelname aan die reeks in Sri Lanka einde volgende maand is dalk in gedrang.

Die Proteas se taktiek om ’n bestendige fondament te lê, het Saterdag gewerk met sy totaal van 189/2, maar dit is onseker hoe suksesvol die taktiek teen die swaargewigte soos Engeland en Indië by die T20-Wêreldbekertoernooi later vanjaar gaan wees.

Die spanne het groot diepte in hul kolflyste en jaag die grenshoue van die eerste bal af.

Die negatiewe sy van die Proteas se taktiek is dat as jy stadig begin en dan ’n paar paaltjies verloor, plaas jy die res van die kolwers onder groot druk.

TELKAART

Meer oor:  T20  |  Ierland  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.