Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Steyn en Amla: Proteas se vuur en ys

Dale Steyn en Hashim Amla is uiteenlopende karakters, maar albei kernfigure in die toetsspan. Tinus van Staden kyk na hul loopbane en hoe die toekoms sonder hulle lyk.

Hashim Amla.
Hashim Amla.
Dale Steyn
Dale Steyn storm in om ’n aflewering in 2016 in Perth teen die Aussies af te stuur.Foto: Getty

Op die een se voorkop bult die are soos hy instoom om een van sy vreesaanjaende 145 km/h-kartetse af te stuur. Sy oë wild van die adrenalien.

Later stap die ander een na die middel om met sy flitsende kolf aflewerings grens toe te sweepslag. Niks van hom, nie eens sy kenmerkende baard, is wild nie. Só kalm is hy, dat selfs sy lyf die natuurlike gevolge van stres, soos sweet, gespaar word.

Dale Steyn het sy 439 toetspaaltjies uitbundig gevier. Sy vuis soos ’n kettingsaag grond toe geslaan en teruggetrek.

Hashim Amla het elkeen van sy 28 toets- en 27 eendaghonderdtalle met ’n dankbare, nederige glimlag gevier. Niks uitbundig nie.

Maar hulle was albei kernbelangrike figure in die Suid-Afrikaanse toetsspan wat die wêreld tussen 2007 en 2014 aan sy voete gehad het.

Amla (36) het dié week sy uittrede uit alle internasionale krieket aangekondig. Steyn (ook 36) het aangekondig sy toetsloopbaan is verby, maar SA ondersteuners sal hom steeds in eendag- en T20-krieket sien instoom.

Spelers se waarde kan nooit met syfers gepeil word nie, maar aan die statistieke gemeet, was Steyn en Amla Suid-Afrika se belangrikste toetsbouler en -kolwer in die tydperk waarin die Proteas die beste vertoningslys van alle lande in die buiteland opgebou het.

In die agt jaar tussen 2007 en 2014 het Suid-Afrika nie een oorsese reeks verloor nie – ’n ongehoorde rekord in hedendaagse krieket.

Amla se kolfgemiddeld buite Suid-Afrika in dié tydperk is 62.28. Tussen 2007 en 2014 het hy 3 301 lopies in 34 wedstryde in die buiteland opgestapel, wat 12 honderdtalle insluit. Dit is die beste syfers van enige Protea-kolwer in dieselfde tyd.

Steyn het in dié tydperk 147 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22.55 lopies per paaltjie en ’n treftempo van 41.7 balle per paaltjie in 29 wedstryde buite Suid-Afrika platgetrek. Ook die beste van enige Protea.

Suid-Afrika was die toetskoning van die wêreld. Steyn en Amla die prinse.

Amla was ook allermins slegs ’n toetsspesialis. Hy en AB de Villiers is die enigste kolwers nog wat in eendag- en toetskrieket meer as 8 000 lopies teen ’n gemiddeld van meer as 45 kon aanteken.

Terwyl hulle uiteenlopende persoonlikhede het, is daar ’n gemeenskaplike kenmerk in die skemerjare van hul loopbane – hul invloed het getaan.

Steyn is deur beserings lamgelê, Amla deur Vader Tyd wat sy gewoonlik blitsige refleks aan bande begin lê het. Tog moet hulle albei steeds gevier word as van die bestes wat Suid-Afrika nóg opgelewer het. Die stille laksman en die vurige verwoester.

Die leemte wat Steyn laat, word reeds tot ’n mate deur Kagiso Rabada gevul. Rabada het egter nog baie myle om te stap voordat hy in dieselfde asem as Steyn genoem kan word.

Wie Amla as Suid-Afrika se nr. 3 gaan vervang, is minder duidelik.

Hoe vervang ’n mens in elk geval só ’n legende?

Meer oor:  Dale Steyn  |  Hashim Amla  |  Toetskrieket  |  Uittrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.