Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas sonder KG vir eendagstryde

Die Proteas sal Engeland van Vrydag af in die spanne se eendagreeks sonder hul beste bouler moet takel.

Kagiso Rabada sal nie in die eendagreeks teen Engeland speel nie. Foto: Gallo Images

Kagiso Rabada het sy regterheup beseer in die tweede T20-wedstryd teen die Engelse Sondag in Paarl en kan vir tot drie weke buite aksie wees.

Rabada sal Woensdag van die groep vrygestel word en die bio-borrel by The Vineyard-hotel in Kaapstad verlaat. Hy sal dan begin met rehabilitasie en voorbereiding vir die toetsreeks teen Sri Lanka, wat op 26 Desember begin.

Rabada sal nie in die groep vervang word nie. Die Proteas se opsies onder die oorblywende snelboulers is dus Lutho Sipamla, Glenton Stuurman, Junior Dala en Beuran Hendricks.

Sipamla het Dinsdagaand in die derde en laaste T20-wedstryd op Nuweland sy kans gekry in Rabada se afwesigheid.

Die Proteas sal ook ’n sug van verligting slaak dat Andile Phehlukwayo en David Miller weer beskikbaar sal wees vir Vrydag se wedstryd. Albei was weens Covid-19-maatreëls in kwarantyn en het die ganse T20-reeks misgeloop.

Veral Phehlukwayo se afwesigheid het ’n leemte gelaat, aangesien die Proteas sonder ’n veelsydige speler moes klaarkom. Dwaine Pretorius moes hom voor die eerste wedstryd weens ’n dyspierbesering onttrek.

Met Phehlukwayo terug, sal die span meer opsies hê. Die Proteas moet tans ook aan streng transformasieteikens voldoen en veral in Rabada se afwesigheid, sal Phehlukwayo hul somme in daardie verband ook beter laat klop.

’n Ander boulopsie kan wees om die draaier Bjorn Fortuin in te span, wat ook ’n bydrae met die kolf kan lewer.

George Linde was egter die een ligpunt in die T20-reeks en die Proteas sal moontlik met hom wil volhard.

Miller se terugkeer is positiewe nuus omdat die Proteas ’n mokerman in die laerorde gemis het in die eerste twee T20-wedstryde teen die Engelse.

Faf du Plessis en Rassie van der Dussen Dinsdagaand saam op Nuweland. Foto: Gallo Images

• Dinsdagaand, in die derde en laaste T20-wedstryd op Nuweland, was dít egter nie ’n probleem nie. Die Proteas het weer vroeg gesukkel en nadat Reeza Hendricks uit is, met die telling op 64/3 in die tiende beurt, het ’n mededingende telling ver buite bereik gelyk.

Rassie van der Dussen (74*, 32 balle; 5x4, 5x6), wat in die eerste twee wedstryde vir ’n stadige treftempo gekritiseer is, het egter ander planne gehad. Hy het Suid-Afrika se gesamentlike vyfde vinnigste T20-vyftigtal (van slegs 23 balle) aangeteken.

Die hoogtepunt was Jofra Archer (0/44) se laaste boulbeurt, waarin hy twee viere en twee sesse gemoker het.

In die laaste boulbeurt het hy Chris Jordan (1/42), streepbal-maestro, vir twee sesse en ’n vier getimmer. En die sesse was gróót.

Hy het in die voorseisoen daaraan gewerk om die slag vroeër in sy beurt beter te roteer en dit is ’n gebied waarin hy nog verder kan verbeter, maar Dinsdagaand het hy gewys wat hy kan uitrig as sy oog eers in is.

In Faf du Plessis (52*, 37 b; 5x4, 3x6) het hy ’n puik vennoot gevind. Du Plessis het die beurt geanker met sy tweede vyftigtal van die reeks.

Saam het hy en Van der Dussen ’n vennootskap van 127* lopies van 64 aflewerings versamel.

Te danke aan ’n aanslag tussen dié twee, wat 84 lopies in die laaste vyf beurte opgelewer het, het die Proteas ’n goeie telling van 191/3 opgestapel.

REGSTREEKSE TELKAART

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Kagiso Rabada  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.