Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas struikel voor wenstreep teen Pakistan

1ste T20-wedstryd, Johannesburg

SA 188/6 (20 boulbeurte)

Pakistan 189/6 (19.5 boulbeurte)

• Pakistan wen met vier paaltjies.

Janneman Malan mik vir ’n mokerhou in die T20-wedstryd tussen Suid-Afrika en Pakistan Saterdag op die Wanderers. Foto: Gallo Images

Doodsnik-stuiptrekkings met die kolf én die bal was Saterdag die ondergang van Suid-Afrika se “B-span”. Dít nadat hulle oorgenoeg kanse geskep het om ’n floubrêg-oorwinning oor ’n goeie Pakistanse span te behaal, terwyl al die Protea-sterre in Indië sit.

Eers het Suid-Afrika in sy kolfbeurt ’n skamele 37 lopies in die laaste vyf boulbeurte aangeteken. Sodoende het die Proteas nie by die 200-kerf uitgekom wat vroeër in die beurt gewink het ná goeie beurte deur Aiden Markram (51, 32 balle), Heinrich Klaasen (50, 28 b) en Pite van Biljon (34, 24 b) nie.

In Pakistan se kolfbeurt het die Proteas 57 lopies in die laaste vyf beurte afgestaan. Skaakmat.

Die positiewe: Mark Boucher sal verheug wees dat die ervare spelers Markram, Klaasen, Van Biljon en Tabraiz Shamsi (2/29 in vier boulbeurte) goeie vertonings gelewer het. Die breier het ná die eendagreeks, wat Pakistan met 2-1 gewen het, ’n pleidooi gelewer dat die senior spelers hul kant moet bring.

Vir meer kon hy seker nie Saterdag vra nie. Wel, miskien sou hy kon vra dat Beuran Hendricks (3/32 in vier bbe.) minder volballe in die doodsnikke boul.

Maar andersins sou die afrigter tevrede wees met sy ervare spelers se vertonings.

Markram en Klaasen het leiding gegee in ’n span wat gestroop is van die ervare Quinton de Kock, David Miller, Anrich Nortjé, Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Temba Bavuma en Rassie van der Dussen. Hulle het boonop met drie debutante – Sisanda Magala, Wihan Lubbe en Lizaad Williams – gespeel.

Markram het ’n pasella-beurt gekry en die meeste daarvan gemaak. Hy was aanvanklik nie in die T20-groep nie, maar is weens Bavuma en Van der Dussen se beserings gevra om ná die eendagreeks aan te bly.

Markram het ’n frustrerende eendagreeks gehad waarin hy tellings van 19, 39 en 18 aangeteken het. In elk van daardie beurte het hy briljant gelyk net voordat hy sy paaltjie weggegooi het.

Hy sou dus met donderweer in sy gemoed teruggekeer het huis toe, was dit nie vir sy T20-kans nie. En hoe het hy dit nie aangegryp nie. Hy en Janneman Malan (24, 16 b) het Suid-Afrika se beurt goed begin.

Klaasen kon op sy beurt vir die eerste keer in sewe internasionale beurte meer as 20 lopies aanteken. Hy het ’n teleurstellende eendagreeks gehad, met tellings van 4, 11 en 1, maar Saterdag was hy op sy stukke. Hy het veral beïndruk met sy trekhoue.

Ná 15 beurte was Suid-Afrika goed op koers vir ’n telling van meer as 200, met die telling op 151/3 en Klaasen op 50 en Pite van Biljon op 22.

Daarna het die wiele egter afgekom. Pakistan se boulers het hul ritme gevind en die volgende vier beurte het slegs 23 lopies opgelewer en die paaltjies van Klaasen, Van Biljon en George Linde geëis. Geen grenshou is in dié vier beurte geslaan nie – ’n groot taboe vir só laat in ’n T20-beurt.

’n Vier deur Andile Phehlukwayo en ’n ses deur Magala het minstens vir ’n oes van 14 lopies in die laaste beurt opgelewer, maar om slegs 37 lopies in die laaste vyf beurte van ’n T20 te slaan, is nie goed genoeg nie. Dít het die Proteas hul momentum gekos.

Pakistan verdien wel krediet vir hul doodsnik-boulwerk – veral Haris Rauf (1/37 in drie bbe.) en Hasan Ali (2/28 in vier bbe.).

In Pakistan se beurt was daar meer as genoeg kanse vir die Proteas, maar die uitstekende aanvangskolwer Mohammad Rizwan (74*, 50 b) het sy span se beurt geanker. Hy was in die reeks in Pakistan ook die Proteas se tier.

In die 16de beurt, toe Hendricks twee paaltjies agtereenvolgens gevat het, het dit gelyk of die Proteas dié wedstryd sou wen. ’n Verwoede aanslag van Rizwan en Faheem Ashraf (30, 14 b) in die laaste vier beurte het Suid-Afrika keelaf gesny.

Magala (0/35 in drie bbe.) en Williams (1/39 in 3.5 bbe.) het elk ’n teleurstellende buiging gehad. Ditto Wihan Lubbe, wat slegs vier lopies kon slaan en ’n vangkans in die laaste beurt verbrou het.

TELKAART

Meer oor:  Pakistan  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.