Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas te lig in broek vir Pakistan

4de T20-wedstryd, Centurion

SA 144 (19.3 boulbeurte)

Pakistan 149/7 (19.5 boulbeurte)

) Pakistan wen met drie paaltjies en die reeks met 3-1.

Rassie van der Dussen was die enigste Protea-kolwer wat Vrydag hond kon haaraf maak. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se krieketspan het Vrydagaand so byna soos Lasarus uit die dood opgestaan, maar op die ou end het hy net te min lopies gehad om ’n verbete terugvegpoging teen Pakistan suksesvol te volbring.

Twee foutballe in die voorlaaste boulbeurt het natuurlik ook nie gehelp nie.

Ná 9.1 boulbeurte in Pakistan se beurt het die besoekers op 91/1 gestaan. Fakhar Zaman en Babar Azam was voor die penne. Hulle het 53 lopies van 65 aflewerings vir ’n sege benodig, op ’n mak SuperSportpark-blad, met ’n blitsige buiteveld. So maklik soos val uit die boom. Toe val Pakistan werklik uit die boom.

Hassan Ali vier die paaltjie van Sisanda Magala. Foto: AP

Lizaad Williams (2/39 in 3.5 boulbeurte) het die terugvegpoging begin deur Zaman (60, 34 balle) en Azam (24, 23 b) uit te haal.

Daarna het Tabraiz Shamsi (1/21 in vier bbe.), Sisanda Magala (2/33 in vier bbe.) en Andile Phehlukwayo (1/11 in twee bbe.) elk ook ’n paar paaltjies geneem om Pakistan te laat steier.

Met twee boulbeurte oor het Pakistan 16 van 12 balle benodig. Magala het die voorlaaste beurt geboul en twee foutballe afgestuur. Die vrye hou ná die tweede foutbal, is vir ’n ses gemoker en dit was neusie verby.

Mohammad Nawaz (25*, 21 b) het Pakistan oor die wenstreep gekry.

Suid-Afrika se probleme het egter in sy kolfbeurt begin.

Dit help nie jy laai jou span met boulopsies as jy nie genoeg kolwers het om jou by ’n groot telling uit te kry nie. Veral nie op die vinnige, harde blaaie van die Hoëveld nie.

Die spankeuses kan met reg bevraagteken word. Die Proteas het met ’n verstommende sewe boulopsies gespeel. Dit het beteken dat George Linde reeds op vyf ingestap het. Linde is ’n goeie mokerman, waarskynlik nie ’n middelorde-kolwer van internasionale gehalte nie.

Wiaan Mulder het sy buiging gemaak en het op ses gekolf, met Phehlukwayo die volgende kolwer.

Die span het dus slegs met vier spesialiskolwers gespeel – Aiden Markram (11, 5 balle), Janneman Malan (33, 28 b), Rassie van der Dussen (52, 36 b) en Heinrich Klaasen (9, 12 b).

Die denkrigting sou wees dat die kolfblad só goed is dat vier spesialiste en vyf ander kolwers wat kan bydra met mokerhoue – vernaam die veelsydige Magala en Bjorn Fortuin – genoeg sou wees om die span by 200 uit te kry. En dan sou die bykomende boulopsies die kaptein, Klaasen, met meer skietgoed bied.

Die plan het skouspelagtig geboemerang, want die Protea-kolflys het ineengestort. In die 13de boulbeurt was Suid-Afrika nog op koers, met die telling op 109/2. Klaasen en Van der Dussen is kort ná mekaar uit en die res van die kolflys het soos ’n natgereënde kartonboks gevou.

Die Proteas ly sodoende hul agtste reeksnederlaag onder Mark Boucher se afrigting. Sedert hy in Desember 2019 oorgeneem het, kon Suid-Afrika nog net twee reekse wen. Een het gelykop geëindig.

Daar is versagtende omstandighede. Die Proteas het in dié tydperk afskeid van verskeie strydrosse geneem, hulle het teen ’n paar puik spanne gespeel (Engeland, Indië, Australië) en in die huidige reeks is al die staatmakers óf beseer óf by die Indiese Premierliga betrokke.

Maar nogtans, ’n Protea-afrigter met só ’n vertoningslys sal nie rustig slaap nie.

Dit is boonop die span se vyfde T20-reeksnederlaag op ’n streep. Met twee T20-Wêreldbeker-toernooie wat in die volgende twee jaar voorlê, is dít nie ’n goeie voorbode nie, selfs al was daardie reeksnederlae teen Pakistan, Engeland en Australië, wat goeie spanne is.

Daar was ’n paar pluspunte – soos Markram en Malan se kolfwerk en Williams se boulwerk – maar ook ’n paar kwelpunte. Soos die doodsnikboulwerk.

Die spankeuses Vrydag kan ’n mens ook net laat kopkrap. Daar moet gewonder word of iemand soos Kyle Verreynne dalk nie ’n verskil sou kon maak nie.

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.