Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Swak Proteas verwelk in Port Elizabeth

Kan die Proteas nie maar 11 Anrich Nortjé’s hê nie?

Minstens wys hy hardnekkigheid en veggees. Dít is wat ’n mens van die Protea-voorslagkolwers verwag het met hul rug teen die muur Saterdagoggend op dag drie van die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth.

Faf du Plessis loop koponderstebo van die veld nadat Engeland se Ollie Pope (met die kopskerm) hom van Dom Bess se boulwerk uitgevang het. Foto: Getty Images

Maar helaas, Dean Elgar (35) en Faf du Plessis (8) is binne die eerste uur uit en Rassie van der Dussen (24) het sy paaltjie 20 minute voor die middagete verloor.

Die verwoester? Die draaibalbouler Dom Bess (5/41), wat sy eerste oes van vyf paaltjies in toetskrieket ingepalm het.

Die Proteas het op 60/2 voortgekolf en die middagete, wat ’n kwartier vroeër aangekondig is weens reën, op 113/5 in hul eerste beurt bereik. Dit is steeds ’n allemintige 386 lopies agter Engeland se reusagtige eerstebeurttelling van 499/9.

Die naguiltjie Nortjé het reeds 88 aflewerings vir sy 14 lopies trotseer. Hy kolf ná middagete saam met Quinton de Kock (0*) voort. Nortjé het ongelooflike durf gewys, veral toe hy vroeg in die sessie ’n aggressiewe boulskof van die blits Mark Wood moes trotseer.

Die bykant was gepak, maar Nortjé het mooi agter die bal gekom en moedig gekolf. Hy het later in die sessie selfs ’n mooi kaphou van Bess en trekhou van Joe Denly vir vier geslaan.

Die druk op Du Plessis se skouers is nou enorm. Sy spelpeil is swak en nadat hy gesê het Temba Bavuma moet lopies die praatwerk laat doen, eis mense dieselfde van hom.

Bavuma het 180 vir die Lions geslaan.

Du Plessis sal die druk voel om in die tweede beurt iets noemenswaardigs te doen. Hy het ywer gewys en twee agtereenvolgende dryfhoue verby halfweg vir vier teen Bess geslaan, nadat hy twee treë uit sy kampie gegee het. Daarna het hy weer by die blad af gedans, maar randjie bygekry, die bal het teen sy beenskut gespat en is deur Ollie Pope in die slagysterposisie op kort punt uitgevang.

Daar word reën vir die volgende twee dae voorspel, so Suid-Afrika kan die toets nog red. Hulle sal wel nie verdien om ’n nederlaag vry te spring nie.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Proteas  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.