Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas verwelk ná Markram se spogbeurt

’n Gulde geleentheid om die sukkelende Pakistanse krieketspan in die grond te kolf, is Vrydag in een sessie weggesmyt.

Vat so! Die Protea-debutant, Zubayr Hamza, moker Vrydag die Pakistanse draaier Shadab Khan oor middebaan vir ses. Foto: Gallo Images

Gelukkig vir die Proteas het Meneer Betroubaar, Vernon Philander (2/1 in vier boulbeurte), Pakistan reeds vierkant op die agtervoet in die besoekers se eerste beurt van die derde toets op die Wanderers.

Hy het met agtereenvolgende balle van Shan Masood en Azhar Ali ontslae geraak in ’n opwindende laaste halfuur van die eerste dag se spel.

Imam-ul-Haq (10*) en die naguiltjie, Mohammad Abbas (0*) sal Pakistan se beurt Saterdag op 17/2 hervat – ’n agterstand van 245 op Suid-Afrika se ietwat teleurstellende eerstebeurttelling van 262.

Die Proteas sal ontevrede daarmee wees dat Pakistan hoegenaamd op dag een gekolf het.

Ná teetyd het die Proteas van 226/3 tot 262 almal uit verwelk. Hulle kon nie voortbou op die grondslag wat Aiden Markram met sy skitterbeurt van 90 vroeër die dag gelê het nie.

Markram en Hashim Amla (41, 98 balle; 6x4) het Suid-Afrika vroeg met ’n vennootskap van 126 om die tweede paaltjie in beheer geplaas.

Dit is die beste tweedepaaltjie-vennootskap nóg vir Suid-Afrika teen Pakistan.

Makram het uitstekend op dreef gelyk en ’n paar sierlike dryfhoue gespeel in sy spogbeurt, wat slegs 124 balle in beslag geneem het en 16 viere ingesluit het.

Hy is op ’n betreurenswaardige wyse uit nadat hy buiterand bygekry het ná ’n wye aflewering aan die bykant en agter die penne gevang is. Met sy vertrek was Suid-Afrika steeds goed op koers met sy telling op 132/2 net ná middagete.

In die tweede sessie het Theunis de Bruyn (49, 82 b; 9x4) en die debutant, Zubayr Hamza (41, 68 b; 5x4, 1x6), met vloeiende kolfwerk vorendag gekom.

’n Teleurgestelde Zubayr Hamza nadat hy sy paaltjie verloor het. Foto: Gallo Images

Hulle het slegs 63 balle benodig om hul vennootskap tot 50 te voer.

De Bruyn en Hamza het dit laat lyk of Suid-Afrika maklik by 400 sou uitkom op dié mak blad.

De Bruyn, wat tot dusver ’n teleurstellende reeks beleef het, het soms gewys waarom hy so hoog aangeslaan word. Hy het goeie tegniek, al tree hy soms te ver na die wegkant voordat die bal afgelewer word.

Dít was ook wat tot sy ondergang gelei het, toe hy been voor paaltjie betrap is.

Hamza het nie baie tyd nodige gehad om die Wanderers op sy voete te kry nie. Sy internasionale loopbaan was 11 balle oud, toe hy die draaier Shadab Khan oor middebaan vir ’n ses gepiets het.

Hy het ook ’n paar goeie trekhoue en laat-kaphoue van die agtervoet gespeel.

’n Kaphou oor punt vir vier het ook die toeskouers se goedkeuring weggedra. Op die oog af, lyk dit of hy beslis die nodige tegniek en temperament het om ’n suksesvolle loopbaan op die vlak te hê.

Die vennootskap tussen die 23-jarige Hamza en die 26-jarige De Bruyn, het straks ’n venster op die Proteas se toekoms oopgemaak. Veral nadat nóg ’n jong speler, Markram (24), ook sy staal getoon het.

Ná teetyd het Suid-Afrika sy laaste sewe paaltjies vir slegs 36 lopies verloor, met Pakistan se voorslagboulers Mohammad Amir (2/36) en Mohammad Abbas (2/44) aan die spits met akkurate rigting en goeie lengtes.

Vroeër die oggend het die instaan-kaptein, Dean Elgar, die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hy het self nie lank staande gebly nie en kon slegs 5 lopies aanteken voordat hy agter die penne uitgevang is.

Hoewel Suid-Afrika bek-af sal wees oor sy kolfineenstorting, is hy steeds in ’n goeie posisie in dié toets.

Meer oor:  Krieket  |  Zubayr Hamza  |  Proteas  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.