Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas voer botoon in St. Lucia

Knieë is gebuig, ’n vyftal aan paaltjies is behaal en ’n vyftigtal is geslaan.

Dit was ’n besige dag vir die Proteas in die Karibiese Eilande. Besig en betreklik suksesvol, ondanks die paaltjies van Aiden Markram en Kyle Verreynne kort voor uitskeityd.

Rassie van der Dussen kniel voor die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande. Foto: West Indies Cricket

Veral Lungi Ngidi (5/19), Anrich Nortjé (4/35), Kagiso Rabada (1/24), Markram (60) en Rassie van der Dussen (34*) sal met ’n glimlag gaan slaap.

Suid-Afrika sal natuurlik ontevrede wees dat hy die uitskeityd nie met meer paaltjies staande bereik het nie, maar die blad is boulers steeds goedgesind.

Dean Elgar (0) en Kyle Verreynne (6) is dalk goedkoop uit, maar Keegan Petersen (19) en Markram se paaltjies het geval vanweë goeie aflewerings deur die tiener-bouler Jayden Seales (3/33).

En Suid-Afrika het nietemin reeds ’n voorsprong van 31 lopies met nog ses paaltjies staande.

Dié posisie het hy aan sy boulers te danke, wat die toestande uitstekend uitgebuit het.

Ngidi, Nortjé en Rabada was meedoënloos met hul lyne en lengtes, en het net genoeg beweging gekry om die Windie-kolwers keer op keer uit te daag.

1ste toets, St. Lucia, dag 1

Windies (1ste beurt) 97

SA (1ste beurt) 128/4

Dié sneltrio het met die mees verwoestende boulvertoning in ’n lang tyd vorendag gekom nadat die tuisspan die loot gewen het en besluit het om te kolf.

Rabada en Ngidi het die boulwerk begin en die bal van die begin af op ’n tiekie geplant. Net buite die wegpen, bal ná bal.

Rabada het die buiterand van veral die Windie-kaptein, Kraigg Brathwaite (15), klokslag geklop. Ngidi was ook pynlik akkuraat. Albei boulers het beweging deur die lug en eweredige wip uit die blad gekry.

Die blitsige Nortjé het gematig begin, met ’n paar aflewerings in die middel 130’s. Daarna het hy die pedaal begin ingetrap.

Dit was egter nie net sy vaart nie, maar sy akkuraatheid en beweging van die naat af wat die einde van Shai Hope (15) en Brathwaite beteken het. Nortjé het albei geboul deur die wegpen te ontwortel.

Hy het so die hek oopgeskop en Ngidi het die res van die kolflys nek omgedraai om sy tweede vyftal aan paaltjies in toetse in te palm.

Rabada was ongelukkig om net een paaltjie te oes.

Dit was ’n kliniese boulvertoning wat op bestendigheid, geduld en hope vaardigheid geskoei is.

Aiden Markram het ’n vyftigtal aangeteken op die eerste dag van die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia. Foto: Gallo Images

Daarna het die Proteas wankelrig begin met die paaltjie van Elgar, wat ’n los hou buite die wegpen gespeel het in sy eerste toets as kaptein. Die debutant Petersen (19) het die beurt saam met Markram weer op koers gekry. Ná Petersen se paaltjie, het Markram en Van der Dussen ’n vennootskap van 79 om die derde paaltjie gedeel en die Proteas verby die Windies se telling gevoer.

Terwyl die snellers se vertoning die grootste krieketnuus uit St. Lucia is, was daar voor die wedstryd ook ’n noemenswaardige oomblik.

Elgar het vooraf gesê die spanbestuur het vir elke speler ’n keuse gegee oor hoe hy solidariteit met die Windies se veldtog teen rassisme wil betoon.

Vir die eerste keer het sekere Proteas gekniel voor ’n wedstryd vir die nasionale span. Van die spelers het wel verlede jaar ook gekniel voor die driespanwedstryd in Centurion, maar hierdie was die eerste keer dat spelers in Protea-kleure die knie gebuig het.

Voor die wedstryd het die TV-kameras gewys hoe die Windies kniel en net ’n paar Suid-Afrikaners gewys, maar ’n mens kon nie die volledige prentjie sien van wie kniel, en wie nie.

’n Foto wat die kommentator Natalie Germanos geneem het, wys wel wie wat gedoen het.

Rabada, Ngidi, Kyle Verreynne (wat in die beseerde Temba Bavuma se plek speel), Van der Dussen, Petersen en Keshav Maharaj het almal gekniel. Elgar, Nortjé, Wiaan Mulder en Markram het ’n vuis in die lug gehou. Quinton de Kock het op aandag gestaan.

Langs die grenstou het die Proteas se ganse bestuurs- en afrigtingspan gekniel. Dit sluit die hoofafrigter, Mark Boucher, in.

Telkaart.

Meer oor:  Windies  |  Proteas  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.