Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas vryf vloer met tam Sri Lankane

Dit het Woensdag op St. Georgepark in Port Elizabeth – waar die Proteas die vierde eendagwedstryd teen Sri Lanka belaglik maklik met ses paaltjies gewen het – gelyk of die besoekers nie meer lus is vir krieket nie.

Proteas
Quinton de Kock het sy goeie vorm in die eendagreeks teen Sri lanka in Port Elizabeth voortgesit deur 51 lopies aan te teken. Foto: Gallo Images

Ná moeilike, lang reekse in Nieu-Seeland, Australië en hier in Suid-Afrika, is die tekens daar dat die Sri Lankane nou genoeg gehad het.

Maar tog, daar is heelwat vars spelers in die span vir die eendagreeks. Dalk was die besoekers net moedeloos ná drie nederlae op ’n streep teen die Proteas.

“Nee,” het Lasith Malinga, die besoekers se kaptein, na die loesing gesê. “Dis eerder ’n kwessie van te min spelers wat hul kans aangegryp het.”

Volgens hom is daar spelers in die span wat nie besig is om hul kanse om die Wêreldbekerspan te haal enige gunse te doen nie.

“Ons kort ouens met karakter. Ons speel op die oomblik net na 60% van ons potensiaal.

“Ons oefen goed en het die planne, maar dan wil dinge nie op die veld uitwerk nie.”

Sri Lanka kon net 189 in 39.2 boulbeurte bymekaarskraap en dit was ook maar grootliks te danke aan ’n vegtersbeurt deur Isuru Udana, wat 78 lopies aangeteken het.

Malinga het hom as een van die spelers uitgesonder wat darem ’n “pluspunt” op die dag was.

Dit was nooit nodig vir die tuisspan om kanse te waag nie en dit was nou ook nie juis asof Sri Lanka se boulers hulle onder geweldige druk geplaas het nie.

Die Proteas het die wenteiken van 190 in 32.5 boulbeurte bereik. 

Reeza Hendricks (8) het nie lank gehou nie, maar Quinton de Kock en Aiden Markram het toe ’n geduldige vennootskap van 56 om die tweede paaltjie gedeel.

Markram is uit vir 29 en De Kock vir 51 wat ses viere ingesluit het. Dit was sy 21ste vyftigtal in internasionale eendagwedstryde.

Faf du Plessis (43), JP Duminy (31*) en David Miller (25*) het gesorg dat die Proteas die teiken inkatrol.

Sri Lanka se suksesvolste bouler was Dhananjaya de Silva, wat 3/41 in 10 boulbeurte geneem het.

Isuru Udana
Isuru Udana het die langsteel in Sri Lanka se kolfbeurt lustig teen die Proteas ingelê. Foto: Gallo Images

In hul kolfbeurt het dit maar treurig met Sri Lanka gegaan. Met die uitsondering van Udana, die span se nommernege-kolwer, was daar maar min om oor opgewonde te raak.

Udana het voor hierdie wedstryd nog net in drie internasionale eendagwedstryde gespeel, waarvan hy net in een gekolf het.Toe het hy ’n “onoorwonne” 0 aangeteken. Maar hy weet heel duidelik hoe om die langsteel in te lê.

Hy het sy 78 (4x6, 7x4) van 57 aflewerings gemoker. Drie van sy sesse was agtereenvolgens van die sneller Anrich Nortjé se boulwerk. Een het in Park-rylaan buite die stadion geland.

Die vennootskap wat Udana saam met Kasun Rajitha om die laaste paaltjie aangeteken het, was 58 lopies werd.

Dit is ’n nuwe rekord vir internasionale eendagwedstryde op St. Georgepark. Dit is ook ’n rekord vir Sri Lanka in internasionale eendagwedstryde. Terloops, Rajitha se bydrae was 0*.

Die Proteas se boulers het almal goed gevaar. Net Nortjé, wat 3/57 in agt boulbeurte geneem het, was die duur kant.

En dit was eintlik ook net een boulbeurt, waarin Udana hom vir 23 lopies getimmer het, wat sy syfers verniel het.

Telkaart

Meer oor:  Sri Lanka  |  St Georgepark  |  Eendagreeks  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.