Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas: WB-stryd dalk glad nie op SAUK TV

Krieketliefhebbers sonder DStv gaan bes moontlik droëbek sit gedurende die Krieketwêreldbeker omdat die SAUK geen uitsaairegte kon bekom nie.

Andile Phehlukwayo en David Miller vier ’n paaltjie in die Proteas se opwarmwedstryd teen Sri Lanka. Die Proteas het met 87 lopies gewen (lees meer op bl. 16 van Sport). Foto: Getty Images

Die SAUK en SuperSport het teen Saterdagmiddag nog onderhandel oor die uitsaairegte vir dié toernooi. Rapport verneem die SAUK wil glo minder vir vanjaar se uitsaairegte betaal as wat hulle in die vorige toernooi in 2015 betaal het.

Net een uitsaaier van elke land kry die uitsaairegte by die Internasionale Krieketraad (IKR). Ander uitsaaiers kan dan uitsaairegte koop by die hoofuitsaaier.

SuperSport het Afrika se uitsaairegte by die IKR gekoop.

Clinton van der Berg, SuperSport-woordvoerder, wou die afgelope week nie sê watter bedrag die SAUK vir die uitsaairegte aangebied het nie.

Die SAUK wou ook nie kommentaar lewer nie. Teen druktyd het TV-gidse nog geen krieket in die openbare uitsaaier se TV-skedules aangedui nie.

Een van die voorstelle tans op die tafel is dat die SAUK net hoogtepunte van 52 minute van die Proteas se wedstryde uitsaai.

In 2015 het die SAUK 30 wedstryde van die toernooi uitgesaai, insluitend twee kwarteindstryde, een halfeindstryd én die eindstryd.

Volgens Sport24 sê bronne in die SAUK daar is “apatie” by die bestuur jeens die Krieketwêreldbeker. Die SAUK wil hom blykbaar toespits op die uitsaairegte vir die Afrikabekersokkertoernooi.

Bafana Bafana speel vanjaar vir die eerste keer sedert 2015 in dié toernooi, wat saamval met die Krieketwêreldbeker. Die krieket begin op 30 Mei met die openingswedstryd tussen die Proteas en die gasheer Engeland. Die eindstryd is op 14 Julie.

Die Afrikabeker duur van 21 Junie tot 19 Julie. Die SAUK kon ook nog nie bevestig of hy reeds die uitsaairegte vir die Afrikabeker verkry het nie.

Rapport het verlede jaar berig dat die SAUK toe reeds nie meer geld gehad het om Bafana se tuiswedstryde of plaaslike sokker regstreeks uit te saai nie.

Die openbare uitsaaier het in November verlede jaar bekend gemaak hy het die afgelope ses jaar sowat R2,3 miljard bestee aan uitsaairegte vir plaaslike sokker. Net R535 miljoen se advertensie-inkomste is uit dié uitsendings verdien – ’n verlies van sowat R1,8 miljard.

Regulasies vir sportuitsendings wat in 2018 uitgereik is, bepaal die Krieketwêreldbekertoernooi word gelys as ’n “verpligte” toernooi wat die openbare uitsaaier moet wys. Ander sportgeleenthede wat die SAUK verplig is om uit te saai, sluit in die Olimpiese en Paralimpiese Spele, die Rugbywêreldbeker, die Sokkerwêreldbeker, die Statebondspele en die Afrikabeker. Benewens die Krieketwêreldbeker en die Afrika-­beker in sokker, word die Rugbywêreldbeker, die Sokkerwêreldbeker vir vroue (waaraan Banyana Banyana vir die eerste keer deelneem) en die Netbal­wêreldbeker ook vanjaar gehou.

Die toutrekkery oor uitsaairegte volg kort voor openbare sittings dié week oor voorgestelde verandering aan wetgewing rakende die uitsaairegte van sportgebeure.

Konsepwetgewing is reeds in 2018 ter tafel gelê wat die hoeveelheid eksklusiewe inhoud wat ’n uitsaaier mag aankoop, sal beperk. Die sittings is van 27 tot 31 Mei in Centurion in Gauteng.

Die SAUK en MultiChoice wil albei daaraan deelneem.

Meer oor:  Dstv  |  Krieket  |  Supersport  |  Sauk  |  Uitsaairegte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.