Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas wéér teen toue teen Indië
Rohit Sharma vier die eerste dubbele honderdtal van sy toetsloopbaan. Hy het Sondag 212 teen Suid-Afrika in Ranchi gemoker.Foto: AP

’n Teleurstellende boulvertoning het Suid-Afrika met die rug teen die muur in die derde kriekettoets teen Indië. Dit het ook nie veel beter met die kolf gegaan nie.

Suid-Afrika het gesteier op 9/2 toe swak lig sake vroeg beëindig het op dag twee in Ranchi. Dit was in antwoord op Indië se beurt wat op 497/7 gesluit verklaar is.

Dit was nogmaals ’n dag in dié toetsreeks wat die huidige gaping tussen dié twee spanne uitgelig het. Ja, Indië was effe gelukkig met die toestande dat die Proteas se aanvangskolwers in swak lig moes begin het. Maar dit is steeds geen verskoning vir die lustelose boulvertoning nie.

Die tuisspan het die dag op 224/3 begin. Rohit Sharma en Ajinkya Rahane (115 van 192 balle; 17x4, 1x6) het Sondagoggend ’n verdere 81 lopies aangeteken om hul vennootskap na 267 lopies van 361 balle te neem.

Sharma (212 van 255 balle; 28x4, 6x6) het die eerste dubbele honderdtal van sy toetsloopbaan aangeteken. Dit was sy derde honderdtal in die reeks nadat hy twee in die eerste toets gemoker het.

Hy het ál die boulers gestraf, maar veral die wegbreekbouler Dane Piedt sal nog lank nagmerries oor sy breë kolf kry.

En waar die Proteas se naatboulers dag 1 van die toets goed begin het, was daar bitter min om oor huis toe te skryf oor dié vertoning Sondag. Die naatboulers het nie juis hulp van die blad of deur die lug gekry nie. Die draaiers is weer geteiken en Indië het sonder enige probleme teen vier lopies per boulbeurt gekolf.

Daar was ’n effe van ’n verbetering ná die middagete met die verlies van Rohit en Rahane se paaltjies. Beide draaibalboulers, George Linde en Dane Piedt, het met meer beheer geboul en hulle het dit reggekry om ’n bietjie druk op te bou.

Al dié goeie werk is in die laaste 40 minute voor die teepouse ongedaan gemaak met die Indiese eindkolwers wat probeer het om blitskrieket te speel. Umesh Yadav het elk van sy eerste vier balle wat hy trotseer het, vir ses geslaan. En almal van die boulwerk van Linde af. Hy het met 31 van 10 balle geëindig voor hy een van Linde se vier slagoffers was.

Die debutant het met ’n ontleding van 31-2-133-4 van die veld gestap.

Piedt het nogmaals ’n teleurstellende boulvertoning gelewer en hy het geen antwoord vir die Indiese regshandige kolwers gehad nie. Hy het met 1/101 van 18 boulbeurte geëindig.

Die marteling in die veld het uiteindelik net voor die teepouse tot ’n einde gekom vir die Proteas, maar dit was amper nóg erger met die kolf.

Mohammed Shami se eerste bal het vir vier loslopies gegaan, maar hy het dit opgevolg met ’n bal wat terug beweeg het van die naat af en Dean Elgar se handskoen getref het op pad na die paaltjiewagter, Wriddhiman Saha.

Toe Quinton de Kock ook handskoen bygekry het in die tweede beurt van Umesh Yadav, was dit 8/2 met twee van die Proteas se beste kolwers terug in die paviljoen.

Faf du Plessis en die jongeling Zubayr Hamza gaan Maandagoggend moet wal gooi.

Meer oor:  Krieket  |  Indië  |  Ranchi  |  Proteas  |  Derde Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.