Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas wys hul vuur is nog lank nie geblus
Anrich Nortjé vier die paaltjie van Ashton Agar in die laaste boulbeurt van die T20-stryd tussen Suid-Afrika en Australië op St. Georgepark in Port Elizabeth. Foto: Reuters

Daar is darem nog ’n bietjie veggees oor in die Proteas oor. Ja, die Protea-vuur is nog lank nie geblus nie.

Ná drie agtereenvolgende T20-nederlae (twee teen Engeland en een teen Australië) het die span Sondag in Port Elizabeth weer op die wenpad gekom.

Die Proteas was in die tweede T20-wedstryd in die reeks op St. Georgepark met 12 lopies baas teen die Aussies, wat die eerste wedstryd in die reeks oortuigend gewen het.

Die Proteas, wat die afgelope tyd onder geweldige kritiek deurgeloop het, sal nou Woensdag in Kaapstad die kans kry om die reeks van drie te probeer beklink.

Die tuisspan het ’n paar helde gehad, maar hul kaptein, Quinton de Kock, en snelbouler Anrich Nortjé sou dalk die aand die meeste biere van hul spanmaats gekry het.

De Kock het 70 lopies gemoker in sy span se kolfbeurt van 158/4 en Nortjé moes seker maak die besoekers kry nie 17 lopies van die laaste boulbeurt af nie.

Nortjé, ’n plaaslike seun van Uitenhage, het toe in daardie boulbeurt net vier lopies afgestaan én die paaltjie van Ashton Agar gekry.

David Warner (67*), nie die gewildste speler in Australië se span nie, het hierdie keer nie genoeg ondersteuning van sy spanmaats af gekry met die kolf nie.

Quinton de Kock se wilgerlaat was weer witwarm in die Baai.Foto: Reuters

Die besoekers kon uiteindelik net 146/6 aanteken, nadat hulle met die telling op 138/3 nog goed op koers was.

De Kock se 70 lopies – nege minder as sy hoogste T20-telling tot nog toe vir die Proteas – is van 47 aflewerings aangeteken.

Sy oog was vroeg in en hy het in die tweede boulbeurt reeds twee sesse van Pat Cummins af gemoker.

In die derde boulbeurt het hy een van Mitchell Starc se aflewerings weggeslaan en daar moes ’n nuwe bal opgestuur word.

De Kock het eindelik vier sesse en vyf viere gemoker. Dit kon vyf sesse gewees het, maar Steve Smith het deur die lug geduik en die bal, wat reeds oor die grens was, terug in die veld geklap en Suid-Afrika se kaptein moes met net een lopies vir ’n goeie hou tevrede wees.

Met De Kock uit, het die tuisspan stadiger, in plaas van vinniger, begin kolf.

Rassie van der Dussen (37) het darem ’n bietjie vuur onder die Australiese boulers gemaak.

Kane Richardson was die besoekers se suinigste bouler en het net 21 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan en hy het boonop twee paaltjies (Van der Dussen en Reeza Hendricks) gekry.

Agter die paaltjies het De Kock, nes in sy kolfbeurt, nou en dan ’n bietjie fokus verloor.

Só het hy Aaron Finch mis gevang met sy telling op 14 van Lungi Ngidi se boulwerk af.

Gelukkig vir hom het Ngidi (3/41) die einste Finch met sy volgende bal uitgeboul.

Ngidi het ook Alex Carey (14) skoongeboul en Mitchell Marsh (6) is van sy boulwerk af uitgevang.

Die vangkoot waarmee Miller vir Marsh uitgevang het, het die toeskouers rasend van opgewondenheid gehad.

Faf du Plessis was onder die bal, naby die grens, en toe hy die bal in die hande kry verloor hy sy balans, gooi dit binnetoe en Miller sak op dit toe soos ’n eekhorinkie wat ’n grondboontjie gryp.

Tabraiz Shamsi (0/17) en Dwaine Pretorius (1/29) het in die middel van die Proteas se boulbeurt taamlik goed daarin geslaag om die besoekers se kolwers bedeesd te hou.

TELKAART

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Krieket  |  T20-Reeks  |  Port Elizabeth  |  Anrich Nortje  |  Proteas  |  St. Georgepark  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.