Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lungi: Protokol is ‘frustrasie, maar nodig’

Lungi Ngidi sê die gesondheidsprotokolle wat nou by krieketoefeninge gevolg moet word, is “baie frustrerend, maar baie nodig”.

Lungi Ngidi is as Suid-Afrika se Eendag- én T20-Speler van die Jaar aangewys. Hier moet die Aussie Mitch Marsh terugstap nadat Ngidi hom in die eerste eendagwedstryd in die Paarl skoongeboul het. Foto: Gallo Images

Ngidi (24), wat die naweek as Krieket Suid-Afrika (KSA) se Eendag- én T20-Speler van die Jaar aangewys is, sê dit voel kompleet asof ’n bio-gevaarlike gebeurtenis plaasgevind het.

“Dit voel soos iets uit ’n fliek, want al die veiligheidsmaatreëls wat gevolg word, is iets wat ons nog nooit ervaar het nie,” sê die naatbouler.

Volgens die Covid-19-protokolle wat die minister van sport, Nathi Mtethwa, goedgekeur het, moet spelers nou allerlei voorsorgmaatreëls by oefeninge volg.

“Ons moet sessies bespreek. Groepe kom op spesifieke tye in. Die groepe is ook nie groter as vyf spelers nie.

“Elke bouler het sy eie net, sy eie bal. Daar is geen aanraking nie en ook bykans geen kommunikasie nie. Jy haal amper nooit jou masker af nie.

Dis ’n hele proses voordat jy selfs net ’n bal in die hand het.

“Jy gaan nie meer in die kleedkamer in nie, jy trek in jou kar aan en gaan dan direk veld of binnenshuise nette toe.

“Voordat jy gimnasium toe gaan, moet jy die mense laat weet, sodat hulle die toerusting kan skoonmaak. As jy weggaan, word dit weer vir die volgende ou gereinig.

“Daar is baie dinge wat jy moet onthou. Ons word ook gereeld getoets as ons ingaan vir oefening. Jou temperatuur word by die hek geneem, daar is oral handreinigers, ons vul vorms in. Dis ’n hele proses voordat jy selfs net ’n bal in die hand het.

“Dis ’n gemors, om eerlik te wees. Maar dis so nodig, want ons is in die middel van ’n ernstige pandemie. Covid-19 is iets wat ons nie ligtelik durf opneem nie.”

Die spelers oefen nou vir volgende Saterdag (18 Julie) se Solidarity Cup-driespan-wedstryd, waarin 24 van die land se voorste spelers tot die speelveld sal terugkeer en sommer ook ’n splinternuwe formaat van die spel op die proef gaan stel.

Die spanne vir die Solidarity Cup-driespan-wedstryd.
Die reëls vir die Solidarity Cup-driespan-wedstryd.

“Al is dit ietwat van ’n schlep, moet ons die protokolle volg om te oefen, want ons speel volgende week in ’n wedstryd.”

Ngidi erken hy verstaan nou nog nie ten volle hoe die reëls van dié nuwe driespan-formaat gaan werk nie.

“Dit gaan baie anders wees. Dit is nog effens verwarrend, maar ek sien uit na hoe dit gaan uitspeel as ons eers op die veld is.”

Hy is ook bly dat Engeland en die Wes-Indiese Eilande, en nie Suid-Afrika nie, die eerste post-Covid-19-toets gaan speel. Dié toets begin Woensdag. “Dan kan ons sien hoe werk alles nou.”

Ngidi sê hy was verbaas om as die T20-Speler van die Jaar aangewys te word, veral omdat die ander twee kandidate, Temba Bavuma en Quinton de Kock, skitterende spel gelewer het.

Hy het wel gedink hy staan ’n goeie kans in die eendag-kategorie. Hy het 12 paaltjies in vier eendagwedstryde en 13 paaltjies in ses T20-wedstryde dié seisoen platgetrek.

Shabnim Ismail, Suid-Afrika se T20-Vrouespeler van die Jaar. Foto: Getty Images
Om mekaar nou vir drie maande glad nie te kon sien nie, voel net nie reg nie.

Shabnim Ismail, die Protea-vrouebouler en T20-Speler van die Jaar, sê daar is nog nie duidelikheid oor wanneer die vroue na die oefenveld kan terugkeer nie.

“Ons sake word nou afgehandel, so hopelik kry ons binnekort die jawoord. Ons mis dit so baie om saam te oefen.

“Ons het mekaar die laaste paar jaar elke maand gesien en om mekaar nou vir drie maande glad nie te kon sien nie, voel net nie reg nie,” sê Ismail (31).

Meer oor:  Lungi Ngidi  |  Krieket  |  Proteas  |  3-Span-Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.