Dit het nie ’n breinchirurg geverg om uit te pluis dat hy sy paaltjie ’n paar keer in die eerste drie toetse teen Engeland weggesmyt het nie, erken Quinton de Kock.
Hy is die voorste Protea-lopiemaker, en tweede algeheel in die reeks naas Ben Stokes, met 265 lopies in ses beurte teen ’n gemiddeld van 44.16. Tog het hy swak houe, veral in Kaapstad, gespeel om sy paaltjie prys te gee. Dit het Suid-Afrika duur te staan gekom.

Quinton de Kock stap teleurgesteld van die veld in Port Elizabeth. Foto: Getty Images
Vanweë die SA kolflys se gesukkel, is die Proteas met 1-2 in die reeks agter en moet hulle die vierde toets, wat Vrydag in Johannesburg begin, wen om die reeks te red.
“In die konteks van die Toetskampioenskap is dit ook belangrik om te wen,” het De Kock Woensdag by die Wanderers gesê.
Spanne kry punte op die ranglys van die Toetskampioenskap vir elke toets wat hulle wen. Die twee spanne met die meeste punte in Junie 2021 sal in die eindstryd op Lord’s in Londen slaags wees.
“Daar is nog baie toetse wat gespeel moet word en hoe meer oorwinnings ons behaal, hoe beter.”
Voordat Suid-Afrika egter enigsins daaraan kan dink, sal die kolwers moet verbeter. De Kock se 95 lopies in die eerste beurt van die eerste toets in Centurion, was die hoogste telling deur ’n Protea in die reeks tot dusver.
Faf, en van die ander spelers, is onder baie druk en as ek die geleentheid het om iemand beter te laat voel, of te laat weet die lewe is nie so sleg nie, sal ek dit doen.
Quinton de Kock
Daarenteen het drie Engelse kolwers – Dom Sibley, Stokes en Ollie Pope – reeds 100-talle aangeteken.
“Die kolwers verstaan wat hulle moet doen. Baie keer vergeet ouens dalk dat jy liewer volgens die situasie van die wedstryd moet speel, as net teen die bouler,” sê De Kock.
“Almal kolf goed, maar ons was met tye sag. Tog dink ek die selfvertroue is steeds daar, ons het dalk net een ou nodig om ’n groot beurt te speel en die res om bydraes te lewer.”
Hy het onder skoot gekom vir die argelose wyse waarop hy met tye sy paaltjie wegsmyt, maar konsentreer nie op die kritiek nie, sê De Kock.
“Ek is op geen sosiale media nie en dit is te danke aan julle ouens (die media). Ek lees nie veel nie. Maar dit is nie rocket science dat ek ’n paar keer my paaltjie te maklik weggegee het nie. Ek moet dit eenvoudig regstel.”
Hy is as die nuwe eendagkaptein aangewys, maar sal dié week slegs sy beste doen om die toetskaptein, Faf du Plessis, by te staan.
“Ek probeer net help. Faf, en van die ander spelers, is onder baie druk en as ek die geleentheid het om iemand beter te laat voel, of te laat weet die lewe is nie so sleg nie, sal ek dit doen.”