Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinny weet reeds hoe lyk droomspan

Suid-Afrika se veldtog in die T20-Wêreldbeker (T20-WB) begin eers oor meer as agt maande. Maar Quinton de Kock het reeds ’n droomelftal in gedagte vir Suid-Afrika se openingswedstryd teen Indië op 24 Oktober in Perth.

“Ons weet basies hoe die elftal lyk wat ons sal wil inspan,” het De Kock, die nuwe Protea-kaptein, Donderdag by die Wanderers gesê. Die meeste van daardie spelers is tans in die groep vir die reeks teen Australië, wat Vrydag in Johannesburg begin.

Pite van Biljon oefen saam met die Suid-Afrikaanse krieketspan. Foto: Gallo Images

“Dis net een of twee ouens (wat nog nie by die span is nie),” sê De Kock.

Veral drie spelers wat nie tans in die groep is nie, sal baie naby aan De Kock se ideale elftal kom. Hulle is AB de Villiers, Imran Tahir en Chris Morris.

De Villiers behoort sy terugkeer tot internasionale krieket ná die Indiese Premierliga te maak. Dalk reeds in die reeks teen Sri Lanka in Mei en Junie (wat nog bevestig moet word), maar beslis in die reeks van vyf T20’s teen die Windies in Augustus in die Karibiese Eilande.

Vir nou gaan dit daaroor om vir ander ouens kans te gee. Jy weet nooit nie, dalk word iemand beseer en dan weet ons wie die volgende ou is wat kan inkom.
Quinton de Kock

Tahir en Morris is albei nog vir Suid-Afrika in T20-krieket beskikbaar en kan ook ná die IPL weer ingespan word.

“Vir nou gaan dit daaroor om vir ander ouens kans te gee. Jy weet nooit nie, dalk word iemand beseer en dan weet ons wie die volgende ou is wat kan inkom,” sê De Kock.

Die Proteas moet juis ’n plaasvervanger vir die beseerde Temba Bavuma kry vir Vrydag se wedstryd. Bavuma was skitterend as aanvangsmaat vir De Kock in die reeks teen Engeland en behoort nou die beurt in die toekoms saam met hom te begin.

Maar vir Vrydag se wedstryd benodig Suid-Afrika ’n ander aanvangskolwer nadat Bavuma sy dyspier beseer het. De Kock weet reeds wie dit gaan wees, maar wou nie Donderdag die aap uit die mou laat nie.

Die logiese keuse sal Jon-Jon Smuts wees. Hy begin gewoonlik die beurt in plaaslike T20-krieket en het gesukkel in die middelorde teen Engeland.

Hy is die enigste erkende aanvangskolwer in die groep, hoewel Rassie van der Dussen en Faf du Plessis ook albei al met vrug as aanvangskolwers in T20-franchisekrieket ingespan is.

As Smuts bevorder word, kan Pite van Biljon moontlik ’n kans in die middelorde kry. Mark Boucher, die Protea-afrigter, het baie aandag aan Van Biljon op Donderdag se netsessie gegee.

’n Vingerbesering het hom uit die reeks teen Engeland gehou, maar die 33-jarige Van Biljon kan sy kans oplaas teen die Aussies kry.

“(As hy kans kry) sal hy speel as ’n middelordekolwer wat die bal in die doodsnikbeurte ver kan slaan. Hy het die X-faktor, so ons het gevoel hy verdien ’n geleentheid op dié vlak,” sê De Kock oor Van Biljon.

Groepe

Suid-Afrika: Quinton de Kock (k), Faf du Plessis, Rassie van der Dussen, David Miller, Pite van Biljon, Dwaine Pretorius, Andile Phehlukwayo, Jon-Jon Smuts, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Lungi Ngidi, Bjorn Fortuin, Anrich Nortjé, Dale Steyn, Heinrich Klaasen, Temba Bavuma (beseer vir 1ste stryd).

Australië: Aaron Finch, Pat Cummins, Sean Abbott, Ashton Agar, Alex Carey, Mitchell Marsh, Jhye Richardson, Kane Richardson, D’Arcy Short, Steven Smith, Mitchell Starc, Matthew Wade, David Warner, Adam Zampa.

  • Begintyd: 18:00 (op SS 2).


Meer oor:  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.