Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinton, Faf weer SA se krukke

Die Proteas se enorme afhanklikheid van hul twee beste kolwers, Quinton de Kock en Faf du Plessis, is Woensdag in die tweede eendagwedstryd teen Sri Lanka in Centurion nogmaals blootgelê.

Faf du Plessis se paaltjies spat in die Proteas se kolfbeurt teen Sri Lanka in die tweede eendagstryd in Centurion. Foto: Gallo Images

Vyftigtalle deur dié twee kolwers het die Proteas tot ’n telling van 251 gevoer nadat Sri Lanka die loot gewen en besluit het om die Proteas in te stuur.

Die res van die kolflys het egter nie veel tot dié telling bygedra nie en hoewel Suid-Afrika teen ’n goeie tempo gekolf het, is hy in die 46ste boulbeurt reeds uitgeboul.

In moderne eendagkrieket, waar tellings van 300 of meer die norm eerder as die uitsondering is, is só ’n beskeie kolfpoging onverskoonbaar.

Die Proteas het dit baie nodig gehad dat een of twee van hul ander kolwers kon voortbou op die puik grondslag wat De Kock (94, 70 balle; 17x4, 1x6) en Du Plessis (57, 66 b; 7x4) gelê het. Met die oog op die Wêreldbeker-toernooi, is dit ook nie ideaal dat twee kolwers só ’n groot las dra nie.

In die eerste wedstryd, Sondag op die Wanderers, was dit ook dié duo wat Suid-Afrika oor die wenstreep geneem het.

Met AB de Villiers wat sy uittrede verlede jaar uit internasionale krieket aangekondig het, sou daar altyd ’n groter las op veral Du Plessis se skouers gewees het. Hy dra dié las skitterend en spog met puik eendagspelpeil vir die laaste jaar of wat, maar hy kan dié las ook nie alleen dra nie.

Quinton de Kock vier sy vyftigtal in die tweede eendagwedstryd teen Sri Lanka, Woensdag in Centurion. Foto: Gallo Images

De Kock se spelpeil is ewe indrukwekkend en hy het nou in sy laaste vier wedstryde, wat die twee toetse teen Sri Lanka insluit, vyf vyftigtalle aangeteken. Vier van dié tellings was bo 80.

Dit het Woensdag van die begin van sy beurt af gelyk asof hy eenvoudig voortgekolf het van die grondslag wat hy Sondag gelê het. Soos die 17 viere in sy beurt getuig, het hy geen moeite ondervind om die grenstou te tref nie.

Dit was boonop die gehalte van die houe wat hy gespeel het, wat uitgestaan het. Hy het selde buitensporige houe probeer speel en met skitterende houespel, soos reguit-dryfhoue, dryfhoue deur die dekke en dryfhoue verby middebaan, vorendag gekom. Dit was slegs die gepoogde trekhou waarmee hy sy paaltjie verloor het, wat ’n klad op sy houe-rekord laat.

Hy en Reeza Hendricks (29, 41 b; 4x4) het die grondslag gelê met ’n vennootskap van 91 van slegs 87 balle om die eerste paaltjie. De Kock en Du Plessis het toe 40 lopies van 36 aflewerings om die tweede paaltjie gevoeg, maar nadat De Kock en Rassie van der Dussen (2) kort ná mekaar uit is, het die skroewe stadigaan begin loskom.

Wiaan Mulder (17, 11 b; 4x4), ook ’n groot Wêreldbeker-aanspraakmaker, het op nr. 5 ingestap en vier agtereenvolgende viere gemoker voordat hy om sy bene uitgeboul is deur die sneller Vishwa Fernando.

David Miller (25, 36 b; 1x4) het ongewoon stadig gekolf op ’n goeie kolfblad. ’n Mens het die gevoel gekry hy gaan later in sy beurt lostrek met ’n paar groot houe. Maar helaas.

Die Proteas se stert het oudergewoonte vinnig verkrummel. Die veelsydige speler Thisara Perera (3/26 in sewe boulbeurte) was Sri Lanka se beste bouler.

Telkaart

Meer oor:  Sri Lanka  |  Eendagwedstryd  |  Proteas  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.