Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinton: ‘Geduld is die wagwoord’

Die Proteas het tans baie uitdagings, maar Quinton de Kock glo ’n bietjie geduld is al wat nodig is.

Quinton de Kock glo geduld is belangrik terwyl die Proteas groepdiepte bou. Foto: Getty Images

Die Protea-kaptein sê beserings en kwarantynmaatreëls het hul opsies tot dusver in die T20-reeks teen Engeland beperk. Hy wil nietemin hul beste moontlike span inspan vir Dinsdagaand se laaste wedstryd op Nuweland, om sodoende te verhoed dat die Engelse skoonskip maak in die reeks.

Veral die afwesigheid van Andile Phehlukwayo (kwarantyn) en Dwaine Pretorius (besering) het die span erg geraak. Dit beïnvloed die span se balans.

“Dis uitdagend om nie ’n veelsydige speler buiten Georgie (Linde) te hê nie. Dit is wel nie so maklik as om net ’n ou in te vlieg nie, want dan sou hulle in elk geval ook vir ’n ruk in kwarantyn moes wees,” het De Kock Maandag gesê.

Baie mense is bekommerd omdat die Proteas nie ’n sesde boulopsie het nie nadat duur boulbeurte van Beuran Hendricks en Lungi Ngidi onderskeidelik die span in die eerste twee kragmetings benadeel het.

Dit sou lekker wees om ’n bykomende kolwer te hê, as ’n veelsydige speler. Dit sal ons net ’n bietjie meer vryheid gee

“Ek weet almal praat oor die sesde bouler, maar as jy daarna kyk, het ons dit nie regtig nodig gehad nie. Dit is altyd lekker om daardie opsie te hê, maar in albei wedstryde was dit net een boulbeurt wat die skade aangerig het,” sê De Kock.

“Dan vra ek of ons regtig ’n sesde bouler nodig het? Ja, in die vervolg sal dit lekker wees, maar ek sê vir nou voel dit vir my dit sou ’n ‘sagte opsie’ gewees het in dié reeks.”

Vir De Kock is ’n veelsydige speler meer noodsaaklik vir die kolflys as die boulaanval.

“Dit sou lekker wees om ’n bykomende kolwer te hê, as ’n veelsydige speler. Dit sal ons net ’n bietjie meer vryheid gee. Maar ons doen ons bes met wat ons het, ons moet dit net laat werk as ’n toporde.”

Ons mis vir Miller, maar dit beteken nie ander ouens soos Heinrich Klaasen of Rassie van der Dussen kan dit nié doen nie.

Hy het bevestig David Miller en Phehlukwayo, wat albei in kwarantyn was, nog nie vir Dinsdag se wedstryd oorweeg kan word nie. Hulle sal wel gereed wees om Vrydag in die eendagreeks te speel.

’n Speler wat die bal van die begin af kan moker, soos Miller, sou die span baie gebaat het in die eerste wedstryde.

“Ons mis vir Miller, maar dit beteken nie ander ouens soos Heinrich Klaasen of Rassie van der Dussen kan dit nié doen nie.”

Wat die elftal betref, is daar ’n kans dat Rabada weens ’n ligte skeet nie Dinsdag ingespan sal word nie. Bjorn Fortuin kan speelkans kry, of die span kan vir Reeza Hendricks laer af in die orde laat kolf.

Lutho Sipamla kan ook as ’n opsie oorweeg word, sou Rabada nie kan speel nie.

TV: Die derde T20-stryd begin om 18:00 en word regstreeks op SS Grandstand (201), SS Cricket (212) en GDN uitgesaai.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Krieket  |  T20  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.