Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Quinton hanteer dié uitdagings puik’

Quinton de Kock het homself sover goed van sy taak as Protea-witbalkaptein gekwyt, maar Krieket Suid-Afrika (KSA) het nog nie besluit of hy as die toetskaptein ook aangewys gaan word nie.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, sê ’n besluit oor die toetskapteinskap sal eers geneem word sodra ’n nuwe sameroeper van die keurkomitee aangestel is. Linda Zondi, die vorige voltydse keurbaas, het sedert Desember waargeneem in dié pos, wat nou in April geadverteer gaan word.

’n Gelukkige kaptein. Quinton de Kock omhels vir Tabraiz Shamsi. Foto: Getty Images

De Kock het Smith nietemin beïndruk met sy kapteinskap – op die veld en in die kleedkamer.

“Quinny het ’n paar uitdagings gehad, want ons het jong, nuwe spelers gekies en vir verskeie mense geleenthede gegee,” het Smith Dinsdag tydens ’n elektroniese nuuskonferensie gesê.

“Dis nooit vir ’n kaptein maklik nie, want jy moet alles bymekaarbring op die veld, mense se sterk- en swakpunte verstaan en die beste uit hulle kry. Saam met dit alles het sy eie vertonings nie gely nie, wat belangrik is.”

De Kock het in sy eerste eendagwedstryd as voltydse kaptein, in Februarie teen Engeland op Nuweland, ’n honderdtal geslaan. Hy is as die Speler van die Reeks aangewys ná skitterende kolfvertonings.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket. Foto: Gallo Images

In die eendagreeks teen Australië het hy nie ’n ewe groot indruk met die kolf gemaak nie, maar dit word verbloem deur die feit dat Suid-Afrika met 3-0 skoonskip gemaak het. Dít met ’n jong, onervare span, teen ’n gedugte Aussie-eenheid.

Toe De Kock as kaptein aangewys is, het Smith gesê hy is glad nie bekommerd oor dié paaltjiewagter se taktiese skerpheid en vaardighede op die veld nie. Dit was liewer die dinge weg van die veld – soos om met die media te praat en ’n leiersfiguur vir die spelers te wees – waaraan daar met De Kock gewerk moet word.

“Op dié stadium is my verwagting van Quinny se leierskap hoofsaaklik op die taktiese sy van die spel op die veld gefokus,” sê Smith.

“Van alles wat ek hoor, het hy agter die skerms goed met die spelers gewerk as ’n leier. Ek was self ’n jong, onervare kaptein en dit gaan altyd daaroor om te groei in al die verskillende uitdagings wat die werk bied.

“Ons moet kyk hoe ons die ganse leierskapkorps wat aangestel is, Mark (Boucher, afrigter), Enoch (Nkwe, hulpafrigter) en die res van die personeel, kan verbeter, want niemand is perfek nie en niemand het al die vaardighede nie. As ons as ’n organisasie aanhou kyk hoe ons kan groei, sal ons sukses behaal.

“Op die keper beskou was ek baie tevrede met hoe Quinny homself gehandhaaf het. Maar daar is gebiede waarin hy moet verbeter en waarin hy graag wíl verbeter.”

Quinton de Kock se kolfpeil het nie onder die kapteinskap gely nie. Foto: Getty Images

De Kock dra ’n swaar las as aanvangskolwer, paaltjiewagter én kaptein. Tot dusver het hy dit egter skitterend hanteer – beter as enigiemand tot nog toe in internasionale krieket.

Slegs die Engelsman Alec Stewart (28) en die Aussie Adam Gilchrist (18) was al in meer wedstryde die aanvangskolwer, kaptein én paaltjiewagter as De Kock, wat dit nou al in 16 wedstryde gedoen het. Dit is in alle formate van internasionale krieket.

De Kock het reeds 644 lopies aangeteken – meer as Stewart se 620 en Gilchrist se 607. Sy gesamentlike kolfgemiddeld in eendag- en T20-krieket wanneer hy kaptein, paaltjiewagter en aanvangskolwer is, is 42.93. Met al drie dié pligte was Stewart se gemiddeld in alle formate 22.96 en Gilchrist s’n 35.70.

In toetskrieket, as De Kock kaptein gemaak word, sal hy egter nie die beurt begin nie.

Suid-Afrika se volgende toetsverpligting is einde Julie in die Karibiese Eilande teen die Windies.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Quinton De Kock  |  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Kapteinskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.