Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinton: Kagiso kan ‘boete’ verwag

Kagiso Rabada kan beslis ’n “boete” verwag nadat hy sy Protea-spanmaat Quinton de Kock langer moes laat wag om sy honderdtal te bereik Sondag op dag drie van die derde kriekettoets teen Pakistan in Johannesburg.

Quinton de Kock vier sy honderdtal op dag drie van die derde toets teen Pakistan in Johannesburg. Foto: AP

Met sy telling op 99, het De Kock ’n puik dryfhou reguit terug na die bouler geslaan. Die bal sou waarskynlik grens toe rol, was dit nie vir Rabada se been wat die bal gestuit het nie.

“Ja, ek was nogal kwaad vir hom. Ek het die druk gevoel, ek wou net by die mylpaal uitkom en dit oor en verby kry,” het De Kock ná die dag se spel gesê.

“Toe kry hy sy voet in die pad. Maar dis oukei, ek het uiteindelik my honderdtal gekry.

“Hy sal meer as ’n boete kry. . . Ek gaan hom ‘doodmaak’,” het hy geskerts.

Ná ’n toets hou die Proteas altyd ’n “boete-vergadering”, waar die spelers hul spanmaats met drankies “straf” vir foute op die veld. In dié vergaderings, wat in goeie gees geskied, kan jy ’n spanmaat “doodmaak” deur hom uit te daag om twee biere tegelykertyd te drink – of iets in der voege.

De Kock se uitstaande beurt van 129 (138 balle; 18x4, 1x6) het die Proteas gehelp om ’n teiken van 381 aan Pakistan te stel.

Dit was sy eerste honderdtal in twee jaar en sy vierde vir die Proteas in toetse. Uit sy reaksie kon ’n mens sien dié een beteken baie vir hom.

“Ek was opgesweep toe ek by my honderdtal uitkom. Dit is nou ’n rukkie sedert ek my laaste honderdtal geslaan het, so ek was baie verlig om weer daardie kerf oor te steek.”

Sy lopiedroogte was ’n frustrerende tydperk.

“Dit is altyd frustrerend as jy probeer om jou beste vir die span te gee en jy kry nie heeltemal wat jy wil hê nie. Dit is hoekom ek so ekstaties was vandag.”

Hy het vir Dale Benkenstein, die Proteas se kolfafrigter, krediet gegee vir sy goeie spelpeil.

“Ek het geleer uit ’n paar foute wat ek in die verlede gemaak het. Ek het ook saam met Dale Benkenstein geskaaf aan een of twee sake wat my tegniek betref en hoe om later in my beurt te kolf. Dit het my deurgetrek.”

De Kock het puik saam met die laeorde-kowlers gekolf en eers ’n vennootskap van 28 saam met Vernon Philander (14, 33 b) gedeel, en toe 79 saam met Rabada (21, 62 b) opgestapel.

“Dit kan een van die moeiliker rolle in ’n span wees om saam met die stert te kolf.

“KG het my egter selfvertroue gegee. Hy het gesê hy gaan saam met my kolf tot die einde, wat hy toe gedoen het.”

Hy sê Rabada se kolfwerk raak al hoe beter.

“Ek voorsien dat hy in die toekoms hoër op in die kolforde sal kan instap.”

Pakistan hervat sy beurt Maandag op 153/3, ’n agterstand van 228 lopies. Asad Shafiq (48*) en Babar Azam (17*) het goed gelyk tydens die laaste uur se spel.

“Die blad het beslis ’n bietjie beter geraak vir kolfwerk. Dit is verrassend, want ek het gedink die blad sal verweer. Ons het ook verwag die nuwe bal sal meer beweeg.

“Blaaie raak wel moeiliker op dag vier en vyf. Ek dink wel dit gaan taai wees, hulle het nog goeie kolwers staande en ons het slegs 228 lopies om mee te speel, op ’n goeie kolfblad.”

Azhar Mahmood, Pakistan se boulafrigter, het De Kock se kolfbeurt geloof.

“Hy is ’n speler van wêreldgehalte,” sê Mahmood.

Volgens Mahmood is Pakistan ook vol vertroue dat hulle die lopies kan aanteken, mits Shafiq en Azam kan voortkolf.

“Ons het van hulle nodig om te doen wat Hashim Amla (71, 144 b) en De Kock vandag gedoen het.”

Meer oor:  Toetskrieket  |  Wanderers  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.