Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinton lei Proteas dalk ook in toetse
Quinton de Kock kan moontlik gevra word om die Proteas se toetsspan ook vir eers te lei. Foto: Gallo Images

Die Proteas se toetsspan vir die reeks teen Sri Lanka word Vrydag aangekondig.

Maar wie gaan die nasionale krieketspan aanvoer?

Die kans is glo groot dat dié taak vir eers ook in die langer formaat aan Quinton de Kock, die Proteas se aanvoerder in witbalkrieket, toevertrou gaan word.

De Kock het vroeër vanjaar, ná Krieket Suid-Afrika (KSA) se prysuitdeling, openhartig oor die gewigtige taak gepraat.

Hy het toe gesê dat hy nie dié bykomende druk op sy skouers nodig het nie. Hy het ook verwys na ’n informele gesprek tussen hom en die breier Mark Boucher, wat ook ’n paaltjiewagter in sy speeldae was.

“Ek het vir hom gesê ek weet nie hoe ek voel daaroor om ook die toetskaptein te wees nie. Die werklikheid is dat dit te veel vir my is om te behartig,” het De Kock gesê.

Ek het vir hom gesê ek weet nie hoe ek voel daaroor om ook die toetskaptein te wees nie. Die werklikheid is dat dit te veel vir my is om te behartig.
Quinton de Kock

Graeme Smith, direkteur van krieket, het aan die einde van die vorige seisoen ook gesê De Kock gaan die span voortaan net in witbalwedstryde aanvoer, omdat die las te veel vir hom sal wees.

Buiten die feit dat De Kock die Proteas se paaltjiewagter is, is hy ook ’n sleutelkolwer in die span en die bykomende verantwoordelikheid van kapteinskap kan sy spel benadeel.

Daar word egter vertroulik verneem dat De Kock, wat later vandeesmaand tydens die eerste toets in Centurion 28 jaar oud word, gevra kan word om die leisels vir die seisoen ook in toetskrieket te hou.

Faf du Plessis

Faf du Plessis het in Februarie, ná Suid-Afrika se reeksnederlaag teen Engeland, afstand van die kapteinskap gedoen.

Die aanvangskolwer Dean Elgar het al ’n voorsmaak as nasionale kaptein gehad en Temba Bavuma is as ’n moontlike opvolger vir Du Plessis beskou, maar sy kolfpeil is dalk ’n rede hoekom daar nie in die stadium na hom gekyk word nie.

Aiden Markram, wat ook al as ’n potensiële toetskaptein bestempel is, het vroeër vanjaar met sy peil gesukkel, maar is danksy drie agtereenvolgende honderdtalle in Centurion in meerdagkrieket weer sterk terug in die prentjie.

• KSA het intussen Woensdag die Proteas se eerste toer na Pakistan sedert 2007 bevestig.

Die toerspan sal van vooraf in kwarantyn wees en die eerste van twee toetse begin op 26 Januarie. Die toer eindig op 14 Februarie met die derde en laaste T20-wedstryd.

Die twee toetse word in Karatsji en Rawalpindi beslis, terwyl Lahore gasheer vir die eerste T20-reeks tussen die lande is.

Die bevindinge van die afvaardiging wat hulle vooraf soontoe gestuur het, het hulle die nodige gemoedsrus gegee om met die reëlings voort te gaan.

Smith sê die bevindinge van die afvaardiging wat hulle vooraf soontoe gestuur het, het hulle die nodige gemoedsrus gegee om met die reëlings voort te gaan.

Sy eweknie by Pakistan, Zakir Khan, sê hulle sal geen steen onaangeraak laat om die gesondheid en veiligheid van die spelers te verseker sodat hulle hul beste op die veld kan lewer nie.

• Australië se beplande drie toetse tussen 14 Februarie en 13 Maart in Suid-Afrika, kan volgens ESPNcricinfo.com dalk na Perth verskuif as dit moet.

Die berig verwys na die onlangse Covid-19-gebeure in Kaapstad wat vandeesweek tot die uitstel van Engeland se toer gelei het, sowel as praatjies dat Sri Lanka se komende toer in die weegskaal blyk te wees.

Dit meld dat KSA en Krieket Australië Perth as ’n moontlikheid bespreek, omdat speeltoestande daar en in Suid-Afrika baie soortgelyk is. Die inkomste sal dan steeds na KSA gaan.

Toerprogram in Pakistan

26 Januarie: 1ste toets, Karatsji;

4 Februarie: 2de toets, Rawalpindi;

11dee: 1ste T20-wedstryd;

13de: 2de T20-wedstryd;

14de: 3de T20-wedstryd (al die eendagstryde word in Lahore beslis).


Meer oor:  Graeme Smith  |  Quinton De Kock  |  Pakistan  |  Australie  |  Sri Lanka  |  Pcb  |  Krieket  |  Ksa  |  Reeks  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.