Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinton nou voltydse eendagleier

Quinton de Kock gaan voortaan Suid-Afrika se voltydse eendagkrieket-kaptein wees, maar sy voorganger, Faf du Plessis, se dae as speler in dié formaat is nog nie getel nie.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Dinsdag aangekondig De Kock neem die leisels by Du Plessis oor vir die komende eendagreeks teen Engeland. ’n Woordvoerder van KSA het Woensdag bevestig dié aanstelling is voltyds.

Quinton de Kock vier ’n vyftigtal tydens die WB-toernooi teen Australië. Foto: Reuters

Du Plessis word saam met spelers soos Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Dwaine Pretorius ’n blaaskans vir die reeks teen Engeland gegun. Hy sal daarna weer in eendagkrieket beskikbaar wees, ook om De Kock te brei met die oog op die toekoms.

De Kock het Woensdag gesê geduld is die grootste ding wat hy by Du Plessis oor kapteinskap geleer het. Sy lewe het ook nie verander net omdat hy nou die eendagkaptein is nie.

“Ek voel nog dieselfde. Daar is ander dinge waaraan ons moet aandag gee voor die eendagreeks,” het De Kock Woensdag by die Wanderers gesê.

Die vierde en laaste toets teen Engeland word van Vrydag af daar gespeel. Die Proteas moet dié toets wen om die reeks gelyk te laat trek.

Du Plessis sal die span in dié toets aanvoer, maar dit is onduidelik of hy as kaptein, of enigsins, in Julie na die Wes-Indiese Eilande sal reis vir ’n reeks van twee toetse. Du Plessis bly wel aan as die T20-kaptein, het De Kock Woensdag gesê. “Sy doelwit is die T20-Wêreldtoernooi (wat in Oktober en November in Australië plaasvind)”.

Die siening is dat Du Plessis daarna sal uittree, waarskynlik in alle formate, maar minstens toetskrieket. De Kock sien sy aanstelling as eendagkaptein nie as ’n aanduiding dat hy die toetsleisels ook gaan oorneem nie.

“Ek is nie seker nie. Daar is baie ander ouens wat ook goed voorbereid op die kapteinskap is. Temba (Bavuma) was die onderkaptein en is nou weer terug nadat hy baie lopies geslaan het. Sy naam sal altyd daar wees,” sê De Kock.

Dié begaafde hotklou-kolwer en paaltjiewagter het die span in 2018 in twee eendagwedstryde in Sri Lanka aangevoer en ook verlede jaar in twee T20-kragmetings in Indië, maar nog nie die toetsspan nie.

“Dit is nie vir my om te besluit of ek toetskaptein gaan wees of nie, dit hang van die afrigters en ouens soos Graeme (Smith, direkteur van krieket) af. Ek sal nie druk vir dit nie, maar as dit na my kant toe kom, sal ek dit na my beste vermoë doen.”

As speler is die 27-jarige De Kock bekend as uiters instinktief. As kaptein gaan dit dieselfde wees, maar moenie dink hy gaan nie sy huiswerk doen nie.

“Daar sal beplanning wees, maar ek sal wil hê die spelers moet daarby kan aanpas. Daar sal ’n Plan A en Plan B wees en as dit nie werk nie, moet jy planne op die veld maak. Ek hou daarvan om met sulke planne vorendag te kom, so in die hitte van die stryd.

“Wat ek op die veld sien, dikteer hoe jy die spel moet speel. Op ’n stadige blad kan jy nie net dink jy gaan ’n ou agter die penne laat uitvang nie, jy moet dalk iemand hê wat (voor die paaltjies) in vangposisies is.”

Daar gaan baie verantwoordelikheid op sy skouers wees, aangesien hy as aanvangskolwer, paaltjiewagter én kaptein gaan moet diens doen.

“Ek het nog nie te veel daaroor gedink nie. Dit sal altyd taai raak as die druk hoog is en daar is bykomende verantwoordelikheid, maar ek gedy daaronder.”

Daar is geen kans dat hy die groot handskoene in eendagkrieket gaan opgee nie, het hy reguit gesê. Selfs al is Kyle Verreynne in die eendaggroep vir die reeks teen Engeland.

Die reeks van drie eendagwedstryde teen Engeland begin op 4 Februarie in Kaapstad. Daarna reis die Aussies in Februarie in Maart hierheen vir drie T20-wedstryde en drie eendagwedstryde, voordat Suid-Afrika in Maart in drie eendagkragmetings in Indië gaan speel.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Eendagkaptein  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.