Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Quinton en KG vloek mekaar, SA kapituleer
Faf du Plessis praat met Quinton de Kock. Foto: Gallo Images

“F** jou, man!”

Gekruide taal word gereeld op internasionale sportvelde gebruik. Veral as jy onder jou teenstander se vel wil inkruip, of as jou irritasie met ’n teenstander kookpunt bereik.

Maar toe Quinton de Kock Vrydag dié woorde in Pune geuiter het, was dit nie op ’n Indiër gemik nie, maar sy eie spanmaat Kagiso Rabada!

Dit het nie ’n lipleser geverg om te sien Rabada het ook ’n paar kleurvolle woorde na die paaltjiewagter gespoeg nie. Faf du Plessis, die kaptein, moes selfs tussenbeide tree.

Die uitgetrede Hashim Amla kan in die SuperSport-ateljee sit en sy diplomatiese bes probeer om ondersteuners te oortuig dat “sulke goed maar gebeur as jy lank in die veld is”, en dat “hulle vinnig weer vrede sou maak”, maar dit skets ’n lelike prentjie as spanmaats op mekaar begin vloek.

Toegegee, toe Rabada ’n bal op dag twee van die tweede toets na De Kock geslinger en sodoende ’n oorgooi-lopie weggegee het wat tot die onderonsie gelei het, was die Proteas se frustrasie-meter reeds diep in die rooi.

Virat Kohli vier sy honderdtal. Foto: AP

Want dit was nie net ’n dag waarop spanmaats op mekaar gevloek het nie, maar ook ’n dag waarop die Indiese kaptein, Virat Kohli (254*), Suid-Afrika se boulers soos o. 9-netboulers laat lyk het onderweg na sy sewende dubbele honderdtal en sy grootste toetstelling nóg.

Dit was ’n skandelike dag waarop Indië in die laaste sessie 128 lopies in 15.3 boulbeurte geslaan het om sy telling tot ’n enorme 601/5 op te stoot. Was dit nie vir ’n roekelose hou van Ravindra Jadeja (91, 104 balle) nie, sou die tuisspan seker nóg langer gekolf het voordat hy verklaar het.

In die veld in die laaste sessie was Protea-vuur ’n mite. Daar was g’n veggees nie. Trouens, die meeste veggees wat die ganse dag tydens Indië se beurt gesien is, was tydens De Kock en Rabada se relletjie.

Die beleërde Proteas is ’n verdere slag toegedien toe hul “beste” draaier, Keshav Maharaj (1/196 in 50 bbe.), die veld in die laaste sessie as ’n voorsorgmaatreël met ’n seer skouer verlaat het.

Die beleërde Proteas is ’n verdere slag toegedien toe hul “beste” draaier, Keshav Maharaj die veld in die laaste sessie met ’n seer skouer verlaat het.

Maharaj sal nou skanderings ondergaan om die erns van sy besering vas te stel, het ’n Protea-woordvoerder laat weet. Hy het 77 beurte in die eerste toets geboul, so sedert verlede Woensdag het hy 762 aflewerings afgestuur (waarvan ses paaltjies geëis het). G’n wonder sy skouer pak op nie.

Kagiso Rabada kyk na waar Ajinkya Rahane hom geslaan het. Foto: Gallo Images

Hy het vrot geboul, maar wel die paaltjie van Ajinkya Rahane (59) platgetrek. Nie hy of enige van sy boulvennote – buiten dalk Rabada – bekommer die Indiese kolwers nie.

Senuran Muthusamy het in nóg ’n stukkie Protea-komedie vir Virat Kohli “uitgekry” net nadat die Indiese kaptein 200 aangeteken het, maar die linksdraaier het ’n foutbal afgestuur en Kohli kon voortkolf.

Die blad is goed om op te kolf. Daar was dus hoop dat die Proteas die 15 oorblywende beurte wat Indië hulle gevra het om Vrydag voor uitskeityd te trotseer, sonder té veel verlies sou uitsien. Ga!

Die Suid-Afrikaanse beurt was agt aflewerings oud toe betrap die naatbouler Umesh Yadav (2/16) vir Aiden Markram vir ’n nulletjie been voor paaltjie.

Twee beurte later het Dean Elgar (2) ’n aflewering van Yadav op sy paaltjies getrek. Temba Bavuma (8) het ’n buiterand by Mohammed Shami (1/3) se eerste aflewering gekry. Dit was waarskynlik hier waar geharde Protea-ondersteuners De Kock se swetswoord ook in hul sitkamers begin gebruik het.

Theunis de Bruyn (20*) en die naguiltjie, Anrich Nortjé (2*), sal die beurt Saterdag op 36/3 hervat. Die agterstand is ’n massiewe 565 lopies, maar die kloof in gehalte tussen die stotterende Proteas en Virat Kohli se indrukwekkende span is selfs groter.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Kagiso Rabada  |  Faf Du Plessis  |  Suid-Afrika  |  Indie  |  Krieket  |  Subkontinent  |  Tweede Toets  |  Spanning  |  Vloek  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.