Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada bly vir ruskans ná ‘teleurstelling’
Kagiso Rabada was nie tevrede met sy vertoning dié jaar nie. Foto: Gallo Images

Vir Kagiso Rabada kon die noodgedwonge blaaskans weens die Covid-19-pandemie nie op ’n beter tyd kom nie.

Dié 25-jarige snelbouler was die laaste jaar ver van sy beste, maar is nou uitgerus en “150% toegewyd” om Suid-Afrikaanse krieket weer met onderskeiding te dien.

“Die afgelope seisoen was ’n teleurstelling. Ek kyk terug en sien my statistieke was oukei, maar ek het verroes en uit plek uit gevoel. Dit was nooit veronderstel om maklik te wees nie, maar nou hanteer ek dit weer dag vir dag en werk aan nuwe doelwitte,” het Rabada Maandag in ’n klankgreep gesê.

Rabada se toetsboulgemiddeld die laaste 12 maande was 32.85, wat sleg afsteek teenoor sy briljante loopbaan-gemiddeld van 22.95. Sy eendaggemiddeld was 36.09 (teenoor 27.34) en sy T20-gemiddeld 35.40 (teenoor 25.40).

Die afgelope seisoen was ’n teleurstelling. Ek kyk terug en sien my statistieke was oukei, maar ek het verroes en uit plek uit gevoel.
Kagiso Rabada

In 20 wedstryde in alle formate het hy die laaste jaar slegs 37 paaltjies platgetrek, sonder om ’n oes van vyf paaltjies in te palm.

Hy het boonop ’n ligte liesbesering opgedoen net voordat die seisoen weens die Covid-19-pandemie onderbreek is, maar sê hy is nou weer piekfyn en uitgehonger vir krieket.

“Ek is bly vir die ruskans, al is ek nie noodwendig bly oor die wyse waarop dit gekom het nie. Dit het my in staat gestel om te dink oor wat presies ek wil hê en om doelwitte te stel.

“Die laaste vyf jaar (sedert sy buiging) het baie vinnig verby gegaan, maar daar was baie krieket gespeel.”

Rabada het ook vroeër vanjaar die laaste toets teen Engeland misgeloop omdat hy te veel strafpunte ingesamel het vir, onder andere, vurige en aggressiewe feesvieringe nadat hy paaltjies platgetrek het. Sy aggressie lok soms kritiek uit, maar Rabada steur hom nie aan wat mense sê nie.

“Ek dink dis passie. Almal het hul eie menings en ek het sekere dinge geïdentifiseer wat ek saam met die mense naaste aan my moet hanteer.

“In die lewe sal daar altyd mense wees wat jou sal kritiseer en dis belangrik om nie na almal te luister nie. Jy moet getrou aan jouself bly. Wat ander mense van jou sê, moet jou glad nie beïnvloed nie.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Kagiso Rabada  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.