Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada die diplomaat: ‘Ons herbou, onthou’

“Ons is in ’n oorgangsfase. Ons leer waardevolle lesse. Ons bly ’n hegte eenheid. Die selfvertroue bly daar.”

Kagiso Rabada het soos ’n wafferse beeldpoetser ’n paar vrae beantwoord van Krieket Suid-Afrika (KSA) se mediabeampte, wat saam met die Proteas in Indië reis.

Kagiso Rabada en Quinton de Kock vier die paaltjie van Mayank Agarwal op dag een van die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië in Pune. Foto: Gallo Images

Terwyl Suid-Afrikaanse ondersteuners woedend is oor die span se gesukkel in die toetsreeks teen Virat Kohli se span, het Rabada Dinsdag die een ná die ander diplomatiese cliché-antwoord aangebied.

“Ons is baie teleurgesteld. Dit is nooit lekker om te verloor nie, veral nie op die wyse waarop ons tans verloor nie,” sê die snelbouler.

“Ons is ’n span wat gewoond is aan wen en ons speel om te wen, so dit is baie sleg. Op die ou end moet daar ’n wenner en ’n verloorder wees en ongelukkig is ons die verloorder.

“Dit motiveer my om beter te vaar. Ons is onlangs onder ongelooflike druk geplaas, ek weet nie of ons onder meer druk geplaas kan word nie.

“Hopelik kan dit ons slyp vir die toekoms.”

Want hulle is ’n jong span.

“Ons is in ’n oorgangsfase. Die span is vars en jonk. Die beste ding wat ons kan doen, is om te kyk waar ons kan verbeter en steeds onthou wat ons sterkpunte is en daarop voortbou.

“Dit was ’n groot leerkurwe tot dusver, maar nou moet ons dít wat ons leer, in werking stel.”

Mense moet ook onthou dit is nooit maklik om na Indië te toer nie, sê Rabada. Dié keer is dit egter nie net die Indiese draaiers wat Suid-Afrika kasty nie, maar die naatboulers ook.

Ons glo ons kan wen. Dit sal ongelooflik wees om daardie geloof gestalte te gee met ’n stewige vertoning net voor ons huiswaarts keer.

“Indië se naatboulers bewerkstellig omgekeerde swaai. Hulle het ook as ’n geheel goed geboul, met die draaiers en naatboulers wat goed gevaar het,” sê hy van die tweede toets in Pune.

“Indië se boulaanval is ook ervare. Ons het vir Annas (Anrich Nortjé) gehad wat sy toetsbuiging gemaak het. Soos ek sê, hierdie ervarings kan ons hopelik in die toekoms help.

“Ons hou die groter prentjie in gedagte. Ons wil die heeltyd verbeter. Die ouens is nou in daardie fase waar hulle oor hul spel leer. Die lesse wat hieruit kom, sal ons net beter maak.”

Maak geen fout nie, sê Rabada, die Proteas glo nog hulle kan die derde toets wen. Die toets begin Saterdag in Ranchi.

“Ons glo ons kan wen. Dit sal ongelooflik wees om daardie geloof gestalte te gee met ’n stewige vertoning net voor ons huiswaarts keer.

“Dit sal vir ons selfvertroue gee as ons weet ons kan hier speel en wen. Die geloof is daar. Dit is wat van ons ’n hegte eenheid maak,” sê Rabada. Want wat anders kan ’n mens sê as jy pas met ’n beurt en 137 lopies verneder is?

Meer oor:  Toetskrieket  |  Kagiso Rabada  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.