Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada geskors, speel nie in 4de toets

Kagiso Rabada sal nie in die vierde toets teen Engeland op die Wanderers in aksie wees nie.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het hom een strafpunt toegedien vir sy uitbundige feesviering van Joe Root se paaltjie Donderdag op die eerste dag van die derde toets in Port Elizabeth.

Kagiso Rabada het hiervoor ’n strafpunt gekry. Hy sal die vierde toets teen Engeland misloop. Foto: Getty Images

Die IKR sê in ’n verklaring: “Die Suid-Afrikaanse bouler is daaraan skuldig bevind dat hy Artikel 2.5 van die gedragskode oortree het, wat handel oor die gebruik van taal, aksies of gebare wat neerhalend is of wat ’n aggressiewe reaksie kan uitlok by ’n kolwer wat sy paaltjie in ’n internasionale wedstryd verloor het.”

Rabada se strafpunt-totaal vir die laaste 24 maande – die tydperk waarvoor strafpunte geldig is – staan nou op vier en hy sal dus die vierde toets misloop. Rabada het in Februarie 2018 een strafpunt gekry vir die wyse waarop hy die paaltjie van Shikhar Dhawan gevier het; in Maart 2018 vir fisieke kontak met Steve Smith en nog een in dieselfde wedstryd vir die wyse waarop hy David Warner se paaltjie gevier het.

Suid-Afrika het in Maart 2018 geappelleer teen ’n veel erger straf vir die Smith-voorval. Krieket Suid-Afrika (KSA) het toe selfs vir advokaat Dali Mpofu betrek om met die appèlproses te help en hulle was suksesvol – die vlaktwee-oortreding (drie strafpunte) is tot ’n vlakeen-oortreding (een strafpunt) verminder.

Dié keer kon KSA nie appèl aanteken nie, omdat dit ’n vlakeen-oortreding is. Rabada het die straf aanvaar, so geen amptelike verhoor was nodig nie.

Rabada se skorsing is ’n reusagtige terugslag vir Suid-Afrika, veral noudat dit lyk of die derde toets óf op ’n Engelse oorwinning, óf op ’n onbesliste uitslag gaan uitloop. Die Proteas sal die reeks in Johannesburg sonder hul beste bouler moet probeer red of wen.

Met Lungi Ngidi nog nie heeltemal fiks nie, is die boulspens leeg. Die linksnaatbouler Beuran Hendricks kan dalk in die prentjie kom, veral omdat die Wanderers sy tuisveld is.

’n Ander opsie is om Dwaine Pretorius terug te bring.

Nog ’n probleem met Rabada se afwesigheid, is dat dit die Proteas se transformasieteikens ’n groot slag gaan toedien.

Hy is die enigste etniese swart speler wat tot dusver in die reeks gespeel het. Suid-Afrika kan dalk genoop word om in Temba Bavuma of Andile Phehlukwayo se rigting te kyk om die transformasieteikens ’n hupstoot te gee.

Die Proteas moet gemiddeld oor ’n seisoen ses swart spelers, waarvan twee etnies swart is, inspan.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Kagiso Rabada  |  Jos Buttler  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.