Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada-hul kry voorsmaak van Pakistan-blaaie

Die Proteas het nog nie die veld gesien waarop die eerste toets teen Pakistan Dinsdag in Karatsji begin nie, maar die veld waarop hulle oefen, hou ’n paar leidrade in oor wat hulle moontlik kan verwag.

“Die blaaie waarop ons tot dusver geoefen het, het nie veel sywaartse beweging nie, veral as die bal ouer raak. Die bal het ook laag gebly,” het die snelbouler Kagiso Rabada Woensdag gesê.

Kagiso Rabada gaan een van Suid-Afrika se belangrikste spelers in Pakistan wees. Foto: Gallo Images

“Ons verwag dat omgekeerde swaai ’n rol sal speel. Die kolwers sal daarby moet aanpas dat die bal nie soveel wip as in Suid-Afrika nie.”

Hy beskou dit as ’n uitdaging.

“Ons as die boulers sal reguit lyne moet boul. Ons is nie seker hoe die blad waarop ons gaan speel, gaan lyk nie, maar ons het ’n idee.”

Rabada is die Protea-bouler wat omgekeerde swaai die beste kan benut. Hy het dit al in weg- en tuisreekse teen Australië uitgestal. Hy sal dus ’n leidende rol met die bal moet speel.

Die positiewe nuus is dat hy weer fisiek goed voel nadat hy van ’n besering herstel het wat hom uit die reeks teen Sri Lanka gehou het.

Volgens Rabada het die span ook nie enige veiligheidsvrese in Pakistan nie.

“Ek voel veilig en dit help my om uitsluitlik op krieket te kan fokus. Ek is bly om die geleentheid te hê om hier te kan speel, want van die grootste spelers van alle tye kom van Pakistan af.”

Suid-Afrika het in 2007 laas in Pakistan gespeel en weet dus nie presies wat om van die toestande te verwag nie, maar Rabada sê hulle besef wat ’n reekssege vir die jong span sal beteken.

“Ek verwag dat Pakistan hard gaan veg. Hulle het ’n paar goeie spelers en dit gaan glad nie maklik wees nie. Ons sal hard moet werk om ’n reeksoorwinning te verdien,” sê hy.

“Dit sal lekker wees om die reeks te wen en nog verder te klim op die toetsranglys. Ons weet ons kan enige span in die wêreld klop. Ons is in ’n herboufase, maar die toekoms lyk goed. Ons is ’n opwindende span vol energie.”

Meer oor:  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Kagiso Rabada  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.