Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada laat kwik styg in Baai

Derde toets teen Suid-Afrika in Port Elizabeth. Dag 1: Engeland, 1ste beurt, 224/4 (Ben Stokes 38*, Ollie Pope 39*).

Dis goed dat die twee grootste, sterkste spelers in die Protea-toetsspan eerste byderhand is. Die bloed kook lawa deur Kagiso Rabada se lyf en Joe Root, met sy wegpen wat skeef uit die grond agter hom hang, is naby aan hom. Baie naby.

Dinge het warm geraak op St. Georgepark toe Kagiso Rabada Joe Root skoongeboul het. Foto: Reuters

Daarom is Rassie van der Dussen en Pieter Malan ’n belangrike buffer om te keer dat dít wat twee jaar gelede hier gebeur het, nie vandag weer gebeur nie. Eers moet Rabada van die emosie ontslae raak nadat hy die Engelse kaptein vir 27 skoongeboul het met ’n aflewering wat ingesny en laag gebly het. Dit laat Engeland op 148/4.

Rabada bult sy arms triomfantlik langs sy sye en hy sak op sy hurke terwyl hy skree soos ’n kryger wat ’n geveg verklaar. Root kyk skaapagtig na die blad en begin paviljoen toe stap.

Malan en Van der Dussen gryp Rabada in ’n omhelsing en keer sodoende waarskynlik fisieke kontak tussen hom en Root – die tipe kontak wat Rabada twee jaar gelede op die einste St. Georgepark in Port Elizabeth in die moeilikheid gekry het toe hy Steve Smith se paaltjie platgetrek het.

Daardie toets, waarin hy sy laaste oes van vyf paaltjies in ’n beurt gevat het, het hy met ’n boulskof uit snelbouler-hemel geswaai. Daar is ’n gevoel dat hy dit dalk nou, op die eerste dag van die derde toets teen Engeland, weer kan doen.

Joe Root se wegpen spat terug nadat Kagiso Rabada hom skoongeboul het. Foto: Reuters

Soos sy spanmaats ’n skrum rondom hom vorm, wonder ’n mens weer wat Du Plessis besiel het om die nuwe bal vir die debutant Dane Paterson te gee en nie vir die wêreld se vierde beste toetsbouler nie.

Du Plessis het dalk gedink Paterson sal die bal kan swaai, want beweging is ’n sterkpunt vir hom. Maar Rabada is die leier van die aanval. Verreweg die beste bouler in die land en sy X-faktor sou Engeland meer ontsenu as Paterson se 135 km/h-aflewerings.

Dalk as Rabada toe reeds geboul het, sou Engeland nie middagete op 61/0 bereik het nie.

Dit was immers Rabada wat die deurbraak in die tweede sessie gekry het. Du Plessis het ’n fout gemaak deur nie vir Rabada die boulwerk te laat begin nie (om nie eens te praat van die sesde loot agtereenvolgens wat hy verloor het nie), maar hy het ’n slinkse plan op ’n stadige blad bewimpel.

Rabada was behoorlik opgesweep toe hy Joe Root uitgekry het. Foto: Getty Images

Hy wou Dom Sibley (36) en Zak Crawley (44) tru van die paaltjies aan die bykant laat uitvang. Hulle is albei lief daarvoor om van hul bene af te speel, so hy wou hul sterkpunt teen hulle gebruik.

Dit het gewerk. Eers het Rabada en toe Anrich Nortjé (1/52) toegeslaan om dié twee uit te kry op bykans ’n identiese wyse.

Keshav Maharaj (1/54 in 30 boulbeurte) was onder soortgelyke druk as Rabada, veral ná sy vertoning in Kaapstad. Hy het geantwoord met sy beste boulvertoning in ’n lang tyd. Hy het skerp draai en wip gekry en vir Joe Denly (25) been voor paaltjie uitgekry ná ’n slim verwysing deur Quinton de Kock.

Die verskil in die kritiek op Maharaj en Rabada was dat Rabada se spelpeil onlangs nie regtig só vrot was nie.

In 2019 het hy in 14 beurte 33 paaltjies teen ’n gemiddeld van 27.39 gevat. James Anderson se loopbaangemiddeld is 26.83.

Rassie van der Dussen en Pieter Malan was eerste by om Rabada te omhels nadat hy Root uitgekry het. Foto: Reuters

Rabada se syfers steek egter af teen sy loopbaanstatistieke, waar hy ’n gemiddeld van 22.69 handhaaf. Hy het tam gelyk in 2019 en hy is so goed en stel die standaard só hoog, dat mense amper verwag hy moet in elke beurt vyf paaltjies vat.

In sy viering van Root se paaltjie kon ’n mens sien wat dit vir hom beteken.

Rabada is op sy allerbeste wanneer hy teen die bestes in die wêreld te staan kom. Dít is waarom hy in 2018 in die Baai so uitbundig feesgevier het toe hy Smith uitgekry het, dat hy byna geskors is.

’n Tweestryd met ’n wêreldklasspeler is verslawend vir Rabada. Wanneer hy Vrydag by die veld opdaag, wag die IKR se Speler van die Jaar, Stokes, voor die penne vir hom. Boonop nadat Stokes en Pope hul span tot ’n goeie posisie gekolf het ná Root se paaltjie. Rabada sal opgesweep wees.

Van der Dussen en Malan moet maar naby bly.

Meer oor:  Kagiso Rabada  |  Joe Root  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.