Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada leer baie by wyse Boucher, Kallis
Kagiso Rabada verlede maand vir die Jozi Stars in die Mzansi-superliga in aksie. Hy moet nou vinnig weer die oorgang na toetskrieket maak.Foto: Gallo Images

Kagiso Rabada, Suid-Afrika se voorste snelbouler, was die laaste paar dae soos ’n spons by die Proteas se oefenkamp in Centurion.

Rabada en sy spanmaats is hier die eerste keer deur die nuwe SA breier, Mark Boucher, asook Jacques Kallis (kolfkonsultant) en Charl Langeveldt (boulafrigter) onder hande geneem sedert hul aanstelling verlede week.

Boucher-hulle het die moeilike taak om die Proteas in ’n week se tyd saam te snoer en gereed te kry vir die eerste toets teen Engeland, wat Donderdag op SuperSportpark in Centurion begin.

Boucher en Kallis is dalk nuut in hul rolle, maar spog tussen hulle met 986 internasionale wedstryde se ervaring oor al drie formate, wat 313 toetse insluit.

En dis dié ervaring wat goud werd is, sê Rabada.

“Jacques en Mark is albei twee van die spel se grotes en dis ongelooflik om te luister hoe hulle hul kennis deel – nie noodwendig tegniese kennis nie, maar hoe hulle sekere situasies geestelik benader. Dit bespoedig beslis jou leerproses,” het Rabada Donderdag ná ’n oefensessie gesê.

“Hulle het ’n plan en almal weet presies wat van hulle verwag word om die plan te laat werk.”

Rabada sê hy sien ook daarna uit om met Langeveldt, wat van sy kontrak met Bangladesj vrygestel is, te werk.

Almal is op dieselfde golflengte en dis nou net ’n geval dat elke speler se rol behoorlik uitgestippel word.
Kagiso Rabada

“Hy is in dieselfde klas as Jacques en Mark. Hulle het almal so lank op ’n hoë vlak gespeel en weet waarvan hulle praat.

“Almal is op dieselfde golflengte en dis nou net ’n geval dat elke speler se rol behoorlik uitgestippel word.”

Rabada, tans die nr. 2-snelbouler op die Internasionale Krieketraad se toetsranglys, besef hoe moeilik dit gaan wees om ’n kragtige Engelse span in die komende week te troef, veral gegewe die feit dat die Proteas hul laaste vyf toetse verloor en in 1999 laas tuis ’n reeks teen Engeland gewen het.

“Engeland ry tans die kruin van wêreldkrieket, het baie toetskrieket gespeel die laaste klomp maande, is goed afgerig en sy spelers kom al ’n lang pad saam.

“Daarteenoor bevind ons ons tans in ’n oorgangsfase en die uitdaging is om ons spelpeil weer te lig,” het Rabada gesê. – Reuters

Meer oor:  Mark Boucher  |  Kagiso Rabada  |  Jacques Kallis  |  Suid-Afrika  |  Engeland  |  Krieket  |  Afrigter  |  Toetsreeks  |  Snelbouler  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.