Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada, Tahir troon uit in die IPL

Imran Tahir en Kagiso Rabada het Sondag in die Indiese Premierliga (IPL) nogmaals bevestig dat hulle eersdaags die Proteas se skerpste angels in die Wêreldbekertoernooi gaan wees.

Die Suid-Afrikaanse bybreekbouler Imran Tahir vier nog ’n paaltjie in die Indiese Premierliga. Foto: AP

Die 40-jarige Tahir het sy soveelste puik boulvertoning in vanjaar se IPL gelewer en met boulsyfers van 4/27 die grondslag help lê vir sy span, die Chennai Super Kings, se sege van vyf paaltjies oor die Kolkata Knight Riders.

Rabada, wat op sy beurt vir die Delhi Capitals speel, het ook vier paaltjies vir net 22 lopies laat spat in sy span se sege van 39 lopies oor die Sunrisers Hyderabad.

Die jong snelbouler Rabada is tans die voorste paaltjievraat in dié hoogs mededingende T20-liga en het reeds 17 kolwers in agt wedstryde laat terugstap paviljoen toe.

Die 40-jarige Tahir is ná Sondag se wedstryde tweede op die lys en het 13 kolwers in agt wedstryde met sy bybreke en bedrieglike goëlballe uitgehaal.

Kagiso Rabada spog sover met die meeste paaltjies in vanjaar se IPL. Foto: AP

’n Derde Suid-Afrikaanse bouler, Chris Morris, beklee die vierde plek op die lys, met 11 paaltjies in ses wedstryde. Morris, wat ook vir Delhi speel, het Rabada Sondag uitstekend ondersteun en 3/22 laat kantel.

Hoewel die kans skraal is dat hy Donderdag in die Proteas se Wêreldbekergroep ingesluit sal word, sal Morris se boulvertonings in Indië die nasionale keurders tog stof tot nadenke gee.

Wat Tahir se boulvertonings die afgelope paar weke nog meer indrukwekkend maak, is dat hy onder die tien voorste paaltjievrate in die kompetisie ook die suinigste met die bal is.

Hy het sover slegs 5.76 lopies per boulbeurt afgestaan, wat in die konteks van T20-krieket ’n uitstaande vertoning is.

Tahir het Sondag, met die oog op die WB-toernooi, ook ’n belangrike sielkundige slag geslaan, deur die paaltjie van die Windies-ster Andre Russell te neem.

Russell voer ’n skrikbewind in die IPL en het 312 lopies in sewe kolfbeurte gemoker met ’n treftempo van oor die 200 lopies per 100 balle.

“Ek wou bitter graag sy paaltjie neem,” het Tahir volgens Reuters gesê.

“Hy het my vir ’n vier en ’n ses gemoker, maar dit maak nie saak nie. Dit was uit die span se oogpunt belangrik dat ek hom uithaal. Hy is so ’n goeie speler, veral in die eindbeurte.”

Chris Morris is goed op dreef met die bal vir die Delhi Capitals in die IPL. Foto: AP

Sou hul paaie kruis wanneer die Proteas en die Windies op 10 Junie in Southampton swaarde kruis, sal Tahir dalk net ’n bietjie twyfel in Russell se gemoed saai.

Hoewel Tahir tydens die WB-toernooi vir oulaas vir die Proteas se eendagspan sal diens doen, is sy passie vir die spel nog lank nie geblus nie.

“Ek het nog geen planne om uit te tree nie. Ek is nog te lief vir die spel,” het dié gebore Pakistani gesê.

Wat die Suid-Afrikaanse kolwers in die IPL betref, behaal hulle nie naastenby dieselfde sukses as Tahir en Rabada met die bal nie. Quinton de Kock vaar sover die beste met die wilgerlat en het 238 lopies in sewe beurte aangeteken. Sy treftempo is egter ’n relatief beskeie 136. 

– Sportredaksie

Meer oor:  T20  |  Proteas  |  Ipl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.