Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rabada vra Proteas om verskoning
Die feesviering verlede week in Port Elizabeth, wat Kagiso Rabada dié keer in die sop laat beland het. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse snelbouler Kagiso Rabada het sy spanmaats om verskoning gevra dat hy hulle vanweë sy skorsing vir oordadige feesviering in die steek gelaat het.

Die 24-jarige Rabada is ’n strafpunt opgelê, wat meegebring het dat hy die vierde en laaste kriekettoets teen Engeland, wat Vrydag op die Wanderers begin, sal misloop.

Kagiso Rabada oomblikke voor hy Steve Smith in 2018 liggies met die skouer getref het. Foto: Getty Images

Suid-Afrika móét dié toets wen om die reekslouere met Engeland te deel. Hulle sal dit egter sonder Rabada moet regkry nadat hy te erg tekere gegaan het nadat hy die paaltjie van Joe Root geneem het in die afgelope toets in Port Elizabeth.

“Ek kan dít nie weer laat gebeur nie, want ek laat myself en die span in die steek. Dís wat die seerste maak,” sê Rabada.

“Dít (die strafpunt) is nie iets wat ek verwag het nie, maar of dit nou reg of verkeerd was, die werklikheid is dat ek geskors is.”

Rabada het voor dié voorval, waar hy langs Root gaan stelling inneem en sy vuiste gebal het, drie strafpunte oor die afgelope 24 maande versamel. Sodra ’n speler vier strafpunte in dié tydperk teen hom kry, word hy outomaties geskors.

Dié vurige snelbouler was in 2018 ook in die sop op St. Georgepark toe hy die Australiese kolwer Steve Smith skrams met die skouer getref het nadat hy sy paaltjie ook te uitbundig gevier het.

Kagiso Rabada is in 2016 ook vir ’n toets geskors nadat hy Ben Stokes ’n vloekwoord toegesnou het nadat hy sy paaltjie geneem het. Foto: Getty Images

Hy is aanvanklik vir twee toetse geskors, maar het suksesvol daarteen geappelleer en is toegelaat om in die volgende toets op Nuweland te speel.

Rabada is in 2017, toe die Proteas in Engeland getoer het, ook vir ’n toets geskors nadat hy Ben Stokes met ’n swetswoord die pad na die paviljoen gewys het nadat hy hom uitgehaal het.

“Ek skat dit sal my kans gee om aan my spel te slyp en ook ’n blaaskans te neem,” sê Rabada oor sy gedwonge afwesigheid van die krieketveld.

Engeland het die Proteas in die doodsnikke van die Nuweland-toets uitgehaal om die reeks te laat gelyk trek, waarna hy in Port Elizabeth spiere gebult het met ’n beurtoorwinning.

Suid-Afrika se sege in die eerste toets in Centurion beteken egter dat hy nog ’n reeksnederlaag in Johannesburg kan afweer. Die verwagting is dat die links-swaaibouler Beuran Hendricks die plek van Rabada sal neem. – Sportredaksie

Meer oor:  Strafpunt  |  Toetskrieket  |  Kagiso Rabada  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Skorsing  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.