Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ramela vat KSA-raad hof toe

Omphile Ramela het ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien om sy verwydering van Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad te beveg.

Ramela glo sy verwydering van die raad in Desember was ongeldig en onwettig.

Omphile Ramela het hom tot die hooggeregshof gewend oor sy verwydering van Krieket Suid-Afrika se tussentydse raad. Foto: Gallo Images

Die tussentydse raad het Woensdag bevestig daar is hofstukke op hom bedien. Die minister van sport, Nathi Mthethwa, is die eerste respondent en die tussentydse raad die tweede.

Dít volg nadat die tussentydse raad, onder die voorsitterskap van oudregter Zak Yacoob, Ramela van die raad verwyder het omdat hy, onder meer, “die raad se vermoë om sy take uit te voer, belemmer”.

Yacoob het in Desember gesê hy was geskok deur Ramela se optrede.

“Hy is ’n jong man wat glo net sy mening maak saak,” het Yacoob gesê.

Voor sy aanstelling in Oktober 2020 in die raad wat Mthethwa saamgestel het om die kwessies by KSA te takel, was Ramela die president van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca).

Oudregter Zak Yacoob, die voorsitter van KSA se tussentydse raad. Foto: Nelius Rademan

Hy en die raad het oor verskeie kwessies koppe gestamp, waaronder die skorsing van die gewese KSA-sekretaris, Welsh Gwaza. Ramela het gemeen die regte prosesse is nie gevolg nie.

Ramela het Woensdag in ’n verklaring gesê sy hofaansoek takel ook die optrede van die raad, “wat die beginsel van die reg betref”.

“Die direkteure van die raad dien in leierstrukture van die samelewing. As (die raad se) optrede twyfelagtig is met betrekking tot die reg en prosedures, dan het ons as ’n land en die spel van krieket ’n groot probleem,” sê Ramela.

Hy bevraagteken ook die dryfveer agter die raad se optrede.

“Die raad het niks gedoen om die spel en transformasie op en weg van die veld te bevorder nie. Inteendeel, die raad het die teenoorgestelde gedoen, tot op ’n punt waar enige transformasie-vooruitgang verlore geraak het.

“Dit laat die vraag ontstaan – wie se belange dien hulle? Hopelik sal die hofproses help om daardie sluier te lig en die bron van die probleme in krieket te ontbloot.”

Hy sê sy grootste bekommernis is die spel en dat hy voel dit is sy verantwoordelikheid om “op te staan vir die waarheid, vir wat reg is en om die spel te beskerm”.

Meer oor:  Ksa  |  Ksa-Raad  |  Omphile Ramela  |  Krieket Suid-Afrika  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.