Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rapportkaart: Só vaar Proteas teen Pakistan
Quinton de Kock en Hashim Amla was twee van die Proteas se uitblinkers met die kolf. Foto: Gallo Images

Die Proteas se toetskrieketspan het pas sy sewende agtereenvolgende tuisreekssege behaal deur Pakistan met 3-0 te troef. Tinus van Staden beoordeel die Proteas se vertonings in dié reeks.

Duanne Olivier is as die Speler van die Reeks aangewys. Foto: AP Photo

Duanne Olivier 9/10

Om in ’n boulaanval saam met Kagiso Rabada, Dale Steyn en Vernon Philander 24 paaltjies in drie toetse plat te trek, is ’n uitsonderlike prestasie. Welverdiend Speler van die Reeks. Om vir drie toetse teen só ’n hoë spoed soveel kort aflewerings af te stuur, getuig van merkwaardige deursettingsvermoë.

Quinton de Kock 8/10

De Kock sluit die reeks as die voorste lopiemaker af. Hy teken 251 teen ’n gemiddeld 62.75 in vier beurte aan. Dit sluit ’n honderdtal en ’n vyftigtal in. Agter die penne het hy ’n paar kanse verbrou, maar is grotendeels veilig met die groot handskoene op moeilike blaaie.

Kagiso Rabada 8/10

Olivier steel die kollig so effens by hom, maar Suid-Afrika se goue boulseun trek steeds 17 paaltjies teen gemiddeld 18.70 lopies per paaltjie plat. Hy wys hy kan ook vasbyt met die kolf in ’n goeie vennootskap met De Kock op die Wanderers.

Hashim Amla 8/10

Amla spog met ’n gemiddeld van 52.25 in dié reeks. Hy was gereeld die gom wat Suid-Afrika se kolforde aanmekaar gehou het, soos dit ’n goeie nr. 3 betaam. Hy slaan twee vyftigtalle. Lyk met tye soos die Hash van ouds.

Aiden Markram 7/10

Slaan skitterende vyftigtalle in Kaapstad en Johannesburg. Hy was ongelukkig om sy honderdtal op die Wanderers mis te loop. Sluit die reeks met 201 lopies in vyf beurte af, teen ’n gemiddeld van 40.20.

Temba Bavuma op die Wanderers teen Pakistan in aksie. Foto: Gallo Images

Temba Bavuma 7/10

Bewys weer eens hy is die Proteas se man vir ’n krisis. Slaan 172 lopies teen ’n gemiddeld van 43. Dit sluit twee belangrike vyftigtalle in. Beïndruk met hoe aanvallend hy kolf.

Dale Steyn 6/10

Steyn oortref uiteindelik Shaun Pollock se rekord vir die meeste toetspaaltjies deur ’n Suid-Afrikaner. Hy trek 12 paaltjies in die reeks plat en is ongelukkig om nie meer slagoffers te eis nie.

Faf du Plessis 6/10

Die kaptein teken twee nulletjies in Centurion aan, maar slaan terug met ’n uitmuntende honderdtal in Kaapstad, wat die toets vir Suid-Afrika beklink het. Takties weer eens skitterend. Ongelukkig om die derde toets weens ’n skorsing vir ’n slakkepas-boulbeurttempo mis te loop.

Zubayr Hamza 6/10

Kry sy eerste kans in die laaste toets en bewys hy het ’n blink toekoms met ’n beurt van 41 in Suid-Afrika se eerste kolfbeurt. Word deur ’n goeie aflewering vir ’n nulletjie been voor paaltjie betrap in die tweede beurt.

Vernon Philander 5/10

Vernon Philander / Foto: Getty Images

Die vinniger boulers het die kollig by hom gesteel. Hy trek slegs ses paaltjies in vier kolfbeurte plat. Hy is wel suinig en staan slegs drie lopies per boulbeurt af – die minste van al die Protea-boulers.

Dean Elgar 5/10

Vorder slegs een keer in ses beurte verby vyftig en sluit die reeks met ’n skamele gemiddeld van 25.20 af. Hy het wel gereeld sy deel gedoen om die nuwe bal te help uitsien, maar sou graag meer lopies as sy 126 wou aanteken. Vaar goed as die Proteas se instaan-kaptein.

Theunis de Bruyn 3/10

Sy gemiddeld is ses beurte is ’n skamele 18.66 – nie eens naastenby goed genoeg vir ’n Suid-Afrikaanse nr. 4 nie. Hy is ook die enigste topsewe-kolwer buiten Hamza wat nie ’n vyftigtal aanteken nie. Sal homself skop nadat hy sy paaltjie vir 49 in Johannesburg verloor. Sal sy sokkies moet optrek.

Keshav Maharaj –

Hy speel slegs in die eerste toets en boul 14 boulbeurte sonder om ’n paaltjie plat te trek. Gegewe sy min speelkans, sou dit onregverdig wees om vir hom ’n punt te gee.

Meer oor:  Hashim Amla  |  Quinton De Kock  |  Aiden Markram  |  Duanne Olivier  |  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.