Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Ras-debat in krieket woed voort

Die hewige debat rondom ras in Suid-Afrikaanse krieket wat die Protea-bouler Lungi Ngidi se opmerkings verlede week ontketen het, het die naweek voortgewoed.

Lungi Ngidi Foto: Gallo Images

Ashwell Prince, ’n voormalige Protea-toetskolwer en deesdae afrigter van die Cape Cobras, het op Twitter tot die debat toegetree.

“Die hele stelsel is stukkend en is al geruime tyd in ons geliefde Suid-Afrika, in sport én in ons samelewing.

“Ons het ná isolasie teruggekeer en vir die wêreld gesê ons is terug! Maar dit voel ook of daar toe gesê is daar is geen swart spelers wat die spel kan speel nie en ons gaan ’n paar met ons saambring,” het Prince op Twitter gesê.

“Hoe gaan ons dié probleme oplos? Ek het nie die antwoord nie.

“Dit sal ’n eerlike en ongemaklike debat verg.”

Prince het gesê die Windie-legende Michael Holding se optrede teen rassisme het hom die moed gegee om tot die debat toe te tree.

Ashwell PrinceFoto: Gallo Images

SuperSport het Woensdag voor die begin van die eerste toets tussen Engeland en die Windies in Southampton, Engeland, ’n dokumentêre rolprent oor die impak van die Black Lives Matter-beweging op krieket gewys.

Holding het in dié fliek emosioneel gepraat oor sy reaksie toe hy die video gesien het van hoe ’n Amerikaanse polisieman in Minneapolis, Minnesota, sy knie op George Floyd, ’n swart man, se nek druk tot hy dood is.

Holding het sy steun vir BLM uitgespreek.

“Ons vra bloot vir gelykheid. En moenie na my toe kom met ‘White Lives Matter’ of ‘All Lives Matter’ nie. Elke swart mens weet dat wit lewens iets beteken. Dit het nog altyd iets beteken.

“Ons vra bloot dat swart lewens ook iets moet beteken,” het Holding gesê.

Ngidi het verlede week gesê hy ondersteun die BLM-beweging en dat hy en sy spanmaats dit beslis sal bespreek as hulle weer bymekaarkom.

Die voormalige Proteaspelers Pat Symcox en Boeta Dippenaar het daarop gereageer en gesê BLM gaan ’n groter wig dryf in Suid-Afrikaanse krieket.

Hul toetrede tot die debat het nóg reaksie ontketen.

Omphile Ramela, president van die SA Krieketspelersvereniging, het Sondag aan Netwerk24 gesê hy het verwag dat Krieket Suid-Afrika (KSA) Ngidi sterker sou ondersteun.

KSA het wel sy steun aan die BLM-beweging toegesê.

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het Vrydag aan Netwerk24 gesê die beheerliggaam wil sy stem gebruik om hom uit te spreek teen alle vorme van geweld en diskriminasie.

Ramela het gesê hy wil nie veel meer oor Symcox en Dippenaar sê nie. “Ons het reeds te veel suurstof op hulle gemors.”

• Alles is steeds op koers vir Saterdag se Solidarity Cup-driespan-wedstryd op SuperSport-park in Centurion.

Bykomende bron: News24.

Meer oor:  Ashwell Prince  |  Krieket  |  Ksa  |  Black Lives Matter  |  Omphile Ramela
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.