Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rassie kry sy Protea-kans; Aiden gepos

Rassie van der Dussen is vir sy uitstekende spelpeil beloon met ’n plek in die Proteas se groep vir die eerste twee eendagwedstryde teen Pakistan later vandeesmaand.

Rassie van der Dussen vier die Jozi Stars se sege oor die Cape Town Blitz in die eindstryd van die MSL. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Donderdag ’n groep van 14 spelers aangewys, wat in die eerste twee wedstryde in Port Elizabeth en Durban sal speel. Die groep sal aangepas word vir die laaste drie wedstryde.

Die naatbouler Dane Paterson, wat twee jaar gelede laas eendagkrieket vir die Proteas gespeel het, is ook by die groep gevoeg. Die veteraan-kolwer Hashim Amla, wat die laaste eendagreeks teen die Aussies weens ’n besering misgeloop het, is ook terug in die groep.

JP Duminy en Lungi Ngidi kon weens beserings nie oorweeg word nie, terwyl Aiden Markram, Chris Morris en Farhaan Behardien oor die hoof gesien is.

Dié trio was almal in Australië in aksie.

Van der Dussen het sy T20-buiging verlede jaar vir die Proteas gemaak en ’n vyftigtal teen Zimbabwe aangeteken. Hy was die voorste kolwer in die Mzansi-superliga, wat hy saam met die Jozi Stars gewen het.

’n Goeie vertoning teen Pakistan kan Van der Dussen (29) se kanse om die Wêreldbeker-groep te haal, ’n stewige hupstoot gee. In die laaste paar seisoene het hy hom as ’n veelsydige kolwer onderskei, wat die kolfbeurt kan begin en ook met gemak in die middelorde kan inskakel.

Hy beskik oor die vermoë om die grenstou met gemak en reëlmaat te tref, maar hy kan ook ’n meer berekende rol vertolk.

Van der Dussen het Suid-Afrika nog nie in eendagkrieket verteenwoordig nie.

“Ons het na al ons opsies gekyk soos ons nader daaraan kom om ons Wêreldbeker-groep te finaliseer,” sê Linda Zondi, die sameroeper van die keurkomitee, in ’n verklaring.

“Rassie en Dane is twee spelers wat hard aan die deur klop in al die formate.

“Die spelers wat in Australië was en nie vir die eerste twee wedstryde gekies is nie – Farhaan Behardien, Aiden Markram en Chris Morris – is geensins uit die prentjie nie en hulle kan moontlik ’n kans in die tweede deel van die reeks kry.”

Die Proteas se eendaggroep: Faf du Plessis (k), Hashim Amla, Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Imran Tahir, Heinrich Klaasen, David Miller, Dane Paterson, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Dale Steyn, Rassie van der Dussen.

Bepalings:

19 Januarie, 13:00: Port Elizabeth.

22 Januarie, 13:00: Durban.

25 Januarie, 13:00: Centurion.

27 Januarie, 10:00: Johannesburg.

30 Januarie, 13:00: Kaapstad.

Meer oor:  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.