Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Reeksloesing dwing Engelse om te herbesin

Engeland se toetskrieketspan is genoop om selfondersoek te doen ná sy eerste tuisreeks-nederlaag sedert 2014.

Nieu-Seeland het Sondag die tweede toets op Edgbaston met agt paaltjies gewen nadat die eerste een op Lord’s onbeslis geëindig het.

Engeland se kaptein, Joe Root, verduidelik waar als ontspoor het pas nadat Nieu-Seeland die toetsreeks op Edgbaston beklink het.Foto: Getty Images

Ofskoon die tuisspan nie verneder sal voel om teen die voorste toetsspan in wêreldkrieket die knie te buig nie, is dit steeds ’n bitter pil om sy trotse tuisrekord prys te gee.

Die span sal trouens half verlig wees dat die eerste toets onbeslis geëindig het, synde die Kiwi’s in beheer was toe reën ’n volle dag se spel in die wiele gery het.

Engeland het egter geen toets verloor of eers tot ’n onbesliste uitslag gedwing sedert Engeland sewe jaar gelede teen Sri Lanka sy rieme styfgeloop het nie.

Om dus dié rekord tot ’n einde te sien kom, beteken die span sal ernstige vrae aan homself moet vra.

Die eerste vraagstuk is die span se kolfvertoning.

Die boulers het hulle deurgaans heel goed van hul taak gekwyt, maar ’n telling van 122 in die tweede beurt op Edgbaston, was bloot benede standaard.

Daar is veral kommer oor bydrae van die voorste ses kolwers en veral die manier hoe hulle met onverantwoordelike houe hul paaltjies prysgegee het.

Dis tans net die kaptein, Joe Root, wat van enige blaam onthef kan word. Sy toetsgemiddeld is ’n skaflike 48.68, maar ná hom is die gaping beduidend, met Rory Burns (33.23) volgende in die ry.

Die voormalige toetskapein Nasser Hussain het sy mond behoorlik uitgespoel oor die “eiesinnige, koppige benadering” wat deur spelers soos Burns, Dom Sibley en Zak Crawley ten toon gestel word.

“Dis ver verwyderd van die tradisionale manier waarop Engeland toetse benader en dit strek nie die span tot voordeel nie,” het hy gesê.

Root se voorganger, Alastair Cook, het egter gesê dis nie noodwendig onoordeelkundige kolfwerk wat tot die span se ondergang gelei het nie.

“Insinkings gebeur in toetskrieket. Die druk is enorm en dis hier waar die kern van die probleem lê . . . hoe daardie druk verwerk word.”

Tog is die oorwoë mening dat die aanmoediging van “unieke kolfstyle” in die Engelse orde net goed is solank dit werk. Maar wat gebeur as die lopies begin opdroog– hoe lank sal dié cowboy-kolfwerk dan nog aangemoedig word?

Ja, die span was sonder sy talisman, Ben Stokes, wat binnekort terug sal wees ná hy van ’n gebreekte vinger herstel het.

En Jos Buttler kan as paaltjiewagter-kolwer terugkeer. Maar ander kolfopsies buite die huidige groep hamer nie juis met oorgawe aan die toetsdeur nie.

Die voorste lopiemaker die graafskapseisoen, is Durham se Suid-Afrikaanse huursoldaat, David Bedingham, terwyl Jake Libby, Matt Critchley, Tom Haines en Tom Abell hul oomblikke gehad het, maar nog nooit so dat dit die nasionale keurders rede tot nadenke gegee het nie.

Die logiese oplossing met die wilgerlat lyk in die stadium na Dawid Malan of James Vince, ofskoon albei al hul toetskans gehad het, maar ná die vorige toer teen Australië uit die groep gelaat is.

’n Ander ooglopende probleem wat kenners uitlig, is dat Engeland die land is wat die meeste toetskrieket van alle ander nasies speel.

Die probleme wat hieraan verbind word (lang tye in bioborrels en die komplikasies wat daarmee gepaardgaan), is tans onbeheerbaar, word gesê.

Root het in 2021 agt keer sy span op die veld gelei en nie in een van die toetse met die eerstekeurse-elftal nie.

Sleutelspelers is ’n winter-ruskans gegun toe die span in Sri Lanka en Indië gaan toer het, terwyl ’n hele klompie spelers vrygestel is om in die Indiese Premierliga (IPL) franchise-diens te gaan doen. Dié spelers was nie beskikbaar vir die reeks teen die Swartpette nie.

Om dus die wêreld se beste toetsspan te takel terwyl van jou beste spelers T20-krieket speel, is ’n kwessie waaroor daar ’n lang debat gevoer moet word.

Vir die afsienbare toekoms gaan Engeland eers aan die kwessies moet herkou terwyl Nieu-Seeland en Indië mekaar van Vrydag in die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap in Southampton pak.

Volgende op die Engelse agenda is witbalreekse teen Sri Lanka en Pakistan.

En dan volg die hoë hekkie van vyf tuistoetse teen Virat Kohli se woelige Indiërs.

Engeland kan in die stadium homself waarskynlik as die buiteperd in dié reeks beskou.

Kom hy nie die mas op nie, gaan die span met bitter min selfvertroue die reeks om die As in die Engelse winter tegemoet gaan. – TeamTalk, Sportredaksie

Meer oor:  Toetskrieket  |  Joe Root  |  Nieu-Seeland  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.