Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Reën bederf 1ste stryd, maar Iere wys staal
Temba Bavuma en Tabraiz Shamsi vier ’n paaltjie in die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland Sondag in Dublin. Foto: Gallo Images

Reën het die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland Sondag in Dublin kortgeknip, maar die Proteas sou genoeg gesien het om te weet hulle kan die Iere nie ligtelik opneem nie.

Slegs 40.2 boulbeurte was moontlik, waarin die tuisspan 195/4 aangeteken het. Ná 35 boulbeurte, met Ierland op 145/2, was daar ook ’n reënonderbreking van ’n uur en 20 minute, waarna die wedstryd tot 43 boulbeurte per span aangepas is. Die Iere het dus effens versnel tussen die 36ste en 40ste beurte, want die einde van die beurt was in sig.

Die telling van 195/4 moet dus teen hierdie agtergrond beoordeel word – Ierland was nie op pad na ’n telling van 300 in 50 beurte nie.

Porterfield, sy aanvangsmaat, Paul Stirling, en Balbirne het tussen hulle 39 jaar se ervaring van eersterangse krieket. Dit is nie ’n topdrie wat gering geskat moet word nie.


Maar die tuisspan het tog gewys hy kan Suid-Afrika se boulaanval trotseer.

William Porterfield (63, 87 balle) en die kaptein, Andy Balbirne (65, 79 b), het hul beurt geanker, terwyl Henry Tector (25, 28 b) en Mark Adair (16*, 8 b) die versneller ingetrap het ná die eerste reënonderbreking.

Porterfield, sy aanvangsmaat, Paul Stirling, en Balbirne het tussen hulle 39 jaar se ervaring van eersterangse krieket. Dit is nie ’n topdrie wat gering geskat moet word nie. Hulle is ervare en gevaarlike kolwers.

Die Iere het waaksaam en stadig gekolf aan die begin van hul beurt, maar dit wel reggekry om paaltjies in die bank te hou.

Andile Phehlukwayo tydens die eerste eendagwedstryd teen Ierland in Dublin. Foto: Gallo Images

Andile Phehlukwayo (1/39 in sewe boulbeurte) het in die 13de boulbeurt Suid-Afrika se eerste deurbraak gemaak toe hy van Stirling (13, 40 b) ontslae geraak het. Toe het Ierland maar 41 lopies op die telbord gehad, maar die tuisspan het duidelik gevoel paaltjies is belangriker as ’n vinnige begin.

Tabraiz Shamsi (1/35 in agt bbe.) het eers in die 31ste boulbeurt van Porterfield ontslae geraak vir Suid-Afrika se tweede paaltjie, met die Iere op 128.

Dit sou interessant wees om te sien of die Iere se strategie gewerk het en of die Proteas tog die telling vinnig sou kon kafdraf.

Kagiso Rabada (2/43 in 8.2 boulbeurte) het ook twee paaltjies platgetrek. Keshav Maharaj (0/38 in nege bbe.) het ook speelkans gekry en suinig geboul. Lungi Ngidi (0/33 in agt bbe.) het nie ’n paaltjie platgetrek nie, maar was ekonomies.

Quinton de Kock en Anrich Nortjé is albei ’n blaaskans gegun vir die eerste wedstryd en kan moontlik ook die tweede kragmeting Dinsdag misloop.

Janneman Malan sal die beurt Dinsdag saam met Aiden Markram begin.

Meer oor:  Andile Phehlukwayo  |  Suid-Afrika  |  Ierland  |  Proteas  |  Reën  |  Eendagwedstryd  |  Krieket  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.