Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Reeza: Dié golf moet ek aanhou ry

Ek is in daardie sone waar dinge net reg verloop en jy voel alles is net so maklik, sê Reeza Hendricks van sy twee agtereenvolgende honderdtalle vir die Jozi Stars in die Mzansi-superliga (MSL).

Reeza Hendricks erken die applous van die skare nadat hy Sondag in Port Elizabeth sy tweede agtereenvolgende honderdtal vir die Jozi Stars aangeteken het. Foto: Gallo Images

Hy het die afgelope Vrydagaand die eerste kolwer in hierdie toernooi geword wat ’n honderdtal aanteken, toe hy 104 onoorwonne lopies op die Wanderers geslaan het, en dit Sondag opgevolg met ’n onoorwonne 108 teen die Nelson Mandela Bay Stars in Port Elizabeth.

Met 267 lopies is Hendricks nou die grootste lopievraat in die MSL – en ná vier kolfbeurte was daar al ’n ietsie van alles. Benewens die twee honderdtalle het hy ’n vyftigtal aangeteken en ’n nulletjie in sy eerste beurt in die reeks.

Hendricks het die tweede honderdtal van Sondag as beter as die eerste een beskryf, aangesien dit op ’n moeiliker blad behaal is.

“Ek sien die bal net so goed en my kolfpeil is beter as waarvoor jy eintlik kan vra. Terwyl ek op die kruin van die golf is moet ek hom ry,” sê Hendricks.

Hy het maar slegs die sewende kolwer tot dusver geword wat twee agtereenvolgende honderdtalle in T20-krieket aanteken en net die tweede Suid-Afrikaner.

Die eerste Suid-Afrikaner was Marco Marais van die Grens, wat dit vroeër vanjaar in die reeks om die Afrika-beker vermag het.

Met hierdie puik kolfwerk van hom het Hendricks beslis sy kans verbeter om in die groep te wees ná aanstaande jaar se Wêreldbeker.

Hendricks sê hy verkies dit om die beurt te open, maar is net so gemaklik op nommer drie in die orde.

Met Hashim Amla wat deesdae kwaai sukkel, kan Hendricks as aanvangskolwer oorweeg word. Hy het die vermoë om die gapings met gemak te vind terwyl die veldwerk-beperkings geld en wanneer hy aan die gang kom, is hy ’n nagmerrie om na te boul.

Chris Gayle sal die week vir die eerste keer sedert die Jozi Stars se eerste wedstryd vir dié span beskikbaar wees. Foto: Gallo Images

Die Jozi Stars gaan juis ’n probleem hê om hul oorsese glansspeler, Chris Gayle, te akkommodeer.

Hendricks en die linkskolwer Ryan Rickleton het in die laaste paar stryde ’n goeie aanvangspaar gevorm.

Om vir Gayle plek te maak, sal Rickleton waarskynlik gepos moet word. Rickleton is ’n doeltreffende aanvangskolwer en ’n baie goeie veldwerker. Hy het juis in Port Elizabeth twee puik vangskote in die buiteveld benut.

Die probleem met Gayle is dat hy glad nie goed hardloop tussen die paaltjies nie. Word hy gekombineer met die blitsige Hendricks sal daar dus nie enige momentum met die hardloopwerk tussen die paaltjies wees nie.

Gayle maak net daarop staat om grenshoue te slaan en wanneer hy aan bande gelê word, kan die telbord nie aan die rol gehou word met goeie hardloopwerk tussen die paaltjies nie. As veldwerker is hy ook op 39-jarige ouderdom nie veel meer as ’n passasier nie.

Meer oor:  Mslt20  |  Reeza Hendricks  |  Mzansi-Superliga  |  Jozi Stars  |  Chris Gayle  |  Msl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.