Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Reeza krap keurder-kaarte om

Reeza Hendricks se flitsende kolf het Vrydagaand in Centurion ’n groot vet vraagteken in die Protea-keurders se denkproses ingemoker. 

Hendricks se beurt van 65 (46 balle; 9x4) in die tweede T20-wedstryd teen Sri Lanka het die Proteas gehelp om dié wedstryd gemaklik met 16 lopies te wen. 

Rassie van der Dussen (64, 44 b; 4x4, 3x6) het ook sy ongelooflike kolfpeil voortgesit en ’n vennootskap van 116 om die tweede paaltjie tussen dié twee, het Suid-Afrika tot ’n telling van 180/3 in sy 20 beurte gevoer. 

Reeza Hendricks
Reeza Hendricks onderweg na sy vyftigtal in die tweede T20-wedstryd teen Sri Lanka Vrydag in Centurion. Foto: Gallo Images

Die vuisvoos Eilandspan kon slegs by 164/9 uitkom – grootliks te danke aan ’n skitterende beurt deur die stertkantkolwer Isuru Udana (84*, 48 b) wat agt viere en ses sesse getimmer het. 

In die Proteas se beurt het die instaankaptein, JP Duminy, gewys die roes van sy skoueroperasie is afgeskud. Hy het die afrondwerk met ’n warrelwindbeurt van 33* (17 b; 4x4, 3x6) gedoen. 

Van der Dussen en Duminy verskil egter in een opsig van Hendricks: Hulle is albei so te sê van ’n Wêreldbeker-plek verseker. 

Tot voor die eendagreeks teen Sri Lanka, was Hendricks ook. ’n Paar swak vertonings het hom waarskynlik sy plek in die 15-tal vir Engeland gekos, maar sy beurt Vrydag sal die keurders ’n bietjie langer laat dink voordat hulle hom weglaat. 

Aiden Markram, wat Vrydag slegs 3 lopies in sy T20-buiging kon aanteken, het homself waarskynlik vroeër die seisoen in die WB-groep ingespeel, so Hendricks sal nie ten koste van Markram na Engeland vlieg nie. 

Dít bring ons by die Groot Debat oor die Groot Hash?... Moet Hashim Amla ten koste van Hendricks Wêreldbeker toe gaan? 

As Amla gekies word, sal dit bloot vanweë sy ervaring wees en dít wat hy in die verlede vermag het. Hy het boonop drie weke gelede laas gespeel, aangesien hy met medemenslikheidsverlof is om sy pa by sy siekbed by te staan.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - MARCH 22: Chris Morris of
Chris Morris juig oor die paaltjie van Kamindu Mendis. Foto: Gallo Images

Amla het dus nie ’n kans gekry om homself “uit die Wêreldbeker-span te speel” teen Sri Lanka nie, wat dit moeiliker maak om hom tuis te laat.

Hendricks het Vrydagaand egter bewys hy het ’n paar pyle in sy koker wat Vader Tyd deur die jare by Amla gesteel het. Een daarvan is vinnige voetwerk teen draaiers, iets waaroor die byna-36-jarige Amla nie meer beskik nie.

Hendricks se oog is boonop steeds vlymskerp en dít het hy Vrydag met ’n variasie van houe teen die draaiers Akila Dananjaya (1/31 in vier boulbeurte) en Kamindu Mendis (0/12 in een bb.) uitgestal. Amla se reaksietyd is opsigtelik stadiger.

Een T20-beurt in ’n niksseggende reeks teen ’n power teenstander tel seker nie vir veel nie. Maar Hendricks het almal herinner hy is nog hier. 

Tot ’n mate het die veelsydige speler Chris Morris ook ’n flonkering gewys van wat hy kan doen – veral met sy tweede boulbeurt, wat twee paaltjies opgelewer het sonder om ’n lopie te kos. Morris was daarna duur en het 3/32 in vier beurte platgetrek. Tog is sy kans vir ’n WB-plek bykans niks. 

Tabraiz Shamsi (2/16 in vier bbe.) was ook op sy stukke.

Dale Steyn het twee penne in die eerste boulbeurt van Sri Lanka se beurt platgetrek, maar daarna lopies soos ’n stukkende emmer gelek om met syfers van 2/34 in drie beurte te eindig.

Die 20-jarige paaltjiewagter Sinethemba Qeshile het sy buiging gemaak, maar nie kolfkans gekry nie. Hy was goed agter die penne en het sy eerste internasionale vangkans van Morris se boulwerk benut. Hy sal hoop om Sondag in die laaste T20-wedstryd op die Wanderers sy kolftalent uit te stal. 

Meer oor:  Sri Lanka  |  T20  |  Proteas  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.