Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Dave gaan KSA-skade moet herstel

Dave Richardson, die eertydse paaltjiewagter van die Suid-Afrikaanse krieketspan en tot onlangs die uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad (IKR), is die aangewese man om Krieket Suid-Afrika (KSA) uit die moeras te kry.

So glo Jacques Faul, die uitvoerende hoof van die Titans en iemand wat sterk op die radar is om die pos van uitvoerende hoof by KSA oor te neem nadat Thabang Moroe Vrydag voorlopig geskors is.

Dave Richardson is glo ’n sterk kandidaat om Thabang Moroe se plek as uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika oor te neem. Foto: Gallo Images

Dit was gewis ’n Swart Vrydag vir SA krieket.

Om die donker prentjie in krieket nog meer somber te maak, het die grootste borg, Standard Bank, ook aangedui sy paaie gaan aanstaande jaar met KSA skei.

Faul, wat erken hy is deur verskeie raadslede en ander belanghebbendes genader om hom beskikbaar te stel om by Moroe oor te neem, glo Richardson sal die regte man vir die taak wees.

“Ek is baie opgewonde om te hoor dat Dave genader is en dat hy dit waarskynlik sal aanvaar. Hy het die geloofwaardigheid wat SA krieket nou nodig gaan hê in daardie pos. Dit sal wonderlik wees om hom terug te bring in ons krieket,” sê Faul.

Dit gaan nou baie belangrik wees om eties korrek op te tree, want die mense wat aan die stuur was, het baie skade aangerig.
Jacques Faul

“Ek sal met graagte eenkant toe staan sodat Dave die pos kan kry,” het Faul gesê.

Hierdie bekwame administrateur, wat van die Titans die voorste unie op feitlik alle vlakke gemaak het, sê hy sal wel bereid wees om ’n rol in een of ander hoedanigheid te speel.

“Dit gaan nou baie belangrik wees om eties korrek op te tree, want die mense wat aan die stuur was, het baie skade aangerig,” sê hy.

Dr. Jacques Faul sê dis belangrik om voortaan eties op te tree, want die gesagbehhers in KSA-geledere het groot skade aangerig. Foto: Gallo Images

“Dit is hartseer om ’n borg soos Standard Bank te verloor. Hopelik kan Dave dalk nog iets doen om hulle van plan te laat verander. Ons het baie dinge verkeerd gedoen in ons krieket,” sê hy.

Die borgskap wat verloor word, grens glo aan R400 miljoen oor vier jaar. Faul glo om weer só ’n borgskap te bekom, sal nie maklik wees nie.

Hy sê as Richardson die nuwe uitvoerende hoof word, sal Graeme Smith weer bereid wees om die rol van direkteur van krieket te vervul.

Barry Richards, die eertydse Suid-Afrikaanse aanvangskolwer en ook direkteur van Queensland-krieket, glo Richardson en Smith sal ’n uitstekende kombinasie vorm.

Soos talle krieketlui wil hy weet hoekom Moroe deur die uitvoerende raad toegelaat is om só lank weg te kom met alles wat SA krieket ondermyn het.

“Ek wil ook sien dat iemand met ’n goeie sake-agtergrond – iemand soos Erroll Stewart – ook nou betrek word,” sê Richards.

As daar nie nou teen Moroe en die Raad opgetree is nie, sou ek wou sien dat die spelers die drastiese stap doen en staak
Hugh Page

Hugh Page, nóg ’n oud-speler en later ook nasionale keurder, sê wat in KSA-geledere gebeur het, is niks anders nie as krieketkaping, net soos die Guptas met staatkaping gemaak het.

“As daar nie nou teen Moroe en die Raad opgetree is nie, sou ek wou sien dat die spelers die drastiese stap doen en staak. Die spelers is baie ongelukkig en hulle sou ’n manier moes kry om hul ontevredenheid te wys,” sê hy.

Page was Donderdagaand betrokke by ’n vergadering oor die krisis in die spel wat deur ongeveer 100 krieketliefhebbers bygewoon is.

“Daar is baie goeie idees uitgeruil. Ek voel ook Dave (Richardson) is meer as bevoeg om (by Moroe) oor te neem, maar ek wonder wel oor sy vermoë om die politieke spel te speel wat nou so deel is van ons krieket,” sê Page.

Hy voel ook Neil McKenzie moet dadelik aangestel word as die spandirekteur (voorheen afrigter).

Boeta Dippenaar reken dit sal so lank as vyf jaar duur voor die vertroue van krieketondersteuners weer herstel is. Foto: Gallo Images

Boeta Dippenaar, ook ’n oud-Protea, sê dit is ’n geval van wat jy saai sal jy maai in SA krieket.

“Dit is hartseer dat dinge tot hierdie punt moes kom. Ek glo ook die raadslede moet meer blaam dra as die uitvoerende hoof. Hulle het vir so lank hande gevou gesit. Dit gaan moeilik wees om die skade te herstel.

“Vir my is Jacques Faul die ideale persoon om die spel as uitvoerende hoof te lei. Dave Ricardson was vir my net té lank uit die prentjie hier in Suid-Afrika.

“Dit is van kardinale belang dat ’n bevoegde persoon aangestel moet word. Jacques is daai man, want hy het sy vinger op die pols,” sê Dippenaar.

“Ek glo na die fiasko gaan dit ten minste vyf jaar duur om weer die vertroue van die krieketpubliek terug te wen. Daar is geen kortpad na herstel nie,” sê hy.

Meer oor:  Ksa  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika  |  Jacques Faul  |  Boeta Dippenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.