Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Root slaan terug; Aussies nog in beheer

Die reeks om die As het Vrydag wéér wipplank gery met Engeland wat vir ’n verandering kon glimlag.

Die tuisspan het die eerste helfte van dag drie van die vierde kriekettoets op Old Trafford in Manchester oorheers, maar die Aussies het laat teruggeslaan om sake weer in hul guns te swaai.

Josh Hazlewood en sy spanmaats vier die paaltjie van Joe Root Vrydag op Old Trafford in Manchester. Foto: Reuters

Josh Hazlewood (4/48) het drie paaltjies in die laaste sessie geneem om die Aussies se neuse weer voor te kry.

Joe Root ( 71 van 168 balle; 10x4) en Rory Burns (81 van 185 b; 9x4) het ’n vennootskap van 141 lopies om die tweede paaltjie gedeel om Engeland te laat droom.

Dié uitstekende vennootskap het Engeland in staat gestel om die dag op 200/5 af te sluit, ’n agterstand van nog 297 lopies.

Hazlewood en Pat Cummins se boulwerk albei kante van die teepouse het seker gemaak dat die Aussies steeds in beheer van dié toets is.

Die toestande was nie die moeilikste nie, maar Australië se naatboulers het goed gevaar met veral die wêreld se voorste toetsbouler, Cummins, wat Root en Burns buite die wegpen gepla het.

Die twee kolwers het baie hard baklei om hul paaltjies te beskerm en het seker gemaak dat hulle geen geskenke aan die Aussies gegee het nie. Engeland het die naguil, Craig Overton, in die tweede boulbeurt van die dag verloor, maar Root en Burns het die Aussies toe vir die volgende 53 boulbeurte frustreer.

Engeland sal ook baie bly wees dat Root sy staal gewys het en hoekom hy as Engeland se beste kolwer gereken word. Root het voor gister se beurt slegs twee vyftigtalle in die reeks aangeteken.

Dit is altyd een van Australiese krieket se vernaamste doelwitte in enige reeks om die teenstanders se kaptein te teiken. Hulle weet dat as die kaptein sukkel, sukkel die span gewoonlik.

Root is terug op een van sy gunsteling velde. In Root se vyf toetse op Old Trafford voor vandeesweek, het hy ’n honderdtal en vier vyftigtalle aangeteken en hy handhaaf ook ’n gemiddeld van 118.20. Die honderdtal was die 254 wat hy in 2016 teen Pakistan gemoker het. Dit is sy hoogste telling in toetse.

Burns het met die beurt waarskynlik ook sy plek boaan die Engelse kolflys vasgemessel. Hy is die enigste aanvangskolwer wat tot dusver ’n honderdtal in die reeks aangeteken het ná sy 133 in die eerste toets op Edgbaston.

Telkaart

Meer oor:  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.