Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Rotsvaste Rocks-boulers stuit Stars
Hardus Viljoen duik om ’n bal te keer vir die Paarl Rocks teen die Jozi Stars in die Paarl.Foto: Gallo Images

’n Wonderlike boulvertoning op ’n stadige kolfblad op Bolandpark deur die Paarl Rocks het Vrydagaand die Jozi Stars segeloos in vanjaar se Mzansi-Superliga gehou.

Die verdedigende kampioen het nou vyf wedstryde agtereenvolgens verloor nadat hy met 4 paaltjies teen die tuisspan vasgeval het.

Die Rocks is gevra om 130 lopies vir die oorwinning aan te teken nadat die Stars tot 129/3 in hul beurt beperk is.

Die Rocks is gevra om 130 lopies vir die oorwinning aan te teken nadat die Stars tot 129/3 in hul beurt beperk is. Dit was te wyte aan ’n manjifieke boulvertoning deur die tuisspan.

Die Rocks het hierna paaltjies met reëlmaat verloor en op 59/4 het die jaagtog begin wankel.

’n Vennootskap van 57 lopies van 35 balle tussen James Vince (43 van 28 balle; 4x4, 1x6) en Mangaliso Mosehle (31 van 21 balle; 1x4, 2x6) het uiteindelik die oorwinning vir die tuisspan verseker.

Die Rocks het 131/6 ná 16.1 boulbeurte aangeteken.

Duanne Olivier. Foto: Gallo Images

Duanne Olivier (3/39) was die Stars se suksesvolste bouler, maar hy was dalk effe aan die duur kant om die druk op die Rocks se kolwers te bou.

Die Paarliete kon straks ’n bonuspunt behaal het as hul veldwerk beter was. As jy tweede kolf en die teiken binne 16 beurte behaal, kry jy ’n bonuspunt.

Die Rocks het vyf vangkanse in hul beurt verbrou en hoewel twee daarvan in die 20ste boulbeurt van Kerwin Mungroo se boulwerk af was, het dit ’n verskil gemaak.

Die Rocks het vroeër die week aangekondig dat die Proteas se veldwerkbreier, Justin Ontong, hulle die res van die kompetisie gaan slyp. Daar wag harde werk op hom.

Dit was egter die Paarlse boulers wat die grondslag vir dié oorwinning gelê het.

Gewoonlik maak boulspanne op paaltjies staat om die lopietempo onder beheer te hou, maar hoewel die Stars Vrydag slegs drie paaltjies verloor het, kon hulle net 129/3 aanteken.

Hoewel die Stars Vrydag slegs drie paaltjies verloor het, kon hulle net 129/3 aanteken.

Die Rocks se twee draaiboulers – Bjorn Fortuin (1/21) en Tabraiz Shamsi (1/20) – het gehelp om vaart van die bal af te haal en die besoekende kolwers kon net nooit aan die gang kom nie.

Hulle het slegs 7 viere en ’n enkele ses in 20 beurte aangeteken.

Die Stars het ’n goeie begin gehad danksy Ryan Rickelton (30) en Reeza Hendricks (40) se vennootskap van 64 lopies om die eerste paaltjie.

Die Gautengers het egter daarna stoom verloor toe die Bolandse boulers die skroewe begin aandraai.

Dit was ook vreemd dat die Stars besluit het om nie vir Chris Gayle te vra om die beurt te begin nie. Hy het op nr. 3 ingestap. Hy kon net een lopie aanteken.

Meer oor:  James Vince  |  Tabraiz Shamsi  |  Duanne Olivier  |  Johannesburg  |  Paarl  |  Rocks  |  Msl  |  Mzansi-Superliga  |  Krieket  |  Jozi Stars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.