Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA draaier een van Wisden se Groot 5
Simon Harmer se beker loop oor ná ’n briljante seisoen in 2019.Foto: Getty Images

Sy beker loop oor en dis beslis ook iets waarna hy eendag met groot trots kan terugkyk op sy krieketloopbaan.

Só het die voormalige Protea-draaibalbouler Simon Harmer gesê oor die groot eer om as een van Wisden se vyf Spelers van die Jaar aangewys te word.

Die 31-jarige Harmer is Woensdag vereer ná nog ’n uitstekende seisoen as Kolpak-speler by Essex.

Hy is die enigste speler onder die vyf wat nie tans internasionale krieket speel nie.

As jy kyk na die ander vier spelers wat ook vereer is, is dit ’n hengse voorreg. Ek is ongelooflik gelukkig om my in sulke geselskap te bevind.
Simon Harmer

“As jy kyk na die ander vier spelers wat ook vereer is, is dit ’n hengse voorreg. Ek is ongelooflik gelukkig om my in sulke geselskap te bevind,” het hy uit Engeland aan Netwerk24 gesê.

Harmer is saam met drie Aussies, Marnus Labuschagne (’n gebore Suid-Afrikaner), Pat Cummins en die vrouespeler Ellyse Perry, sowel as Engeland se Jofra Archer as Wisden se vyf Spelers van die Jaar – ’n eerbewys wat ’n speler net een keer te beurt mag val – vereer.

Perry is ook vir die tweede keer as die vroue se Internasionale Speler van die Jaar vereer.

By die mans is Engeland se Ben Stokes as Internasionale Speler van die Jaar aangewys.

Ben Stokes Foto: Getty Images

Stokes het dié mantel oorgeneem by Indië se Virat Kohli, wat die laaste drie jaar met die gesogte prys weggestap het. Volgens espncricinfo.com is Stokes ook die eerste Engelse speler in 15 jaar om vereer te word ná die veelsydige Andrew Flintoff in 2005.

“Ek is sommer baie trots daarop, dis beslis iets waarna ’n ou aan die einde van jou loopbaan sal terugkyk.

“Ek was vroeër saam met Essex op ’n voorseisoense oefenkamp in Abu Dhabi, wat toe weens die Covid-19-pandemie kortgeknip is en is nou hier in Engeland in inperking.

“Hulle het vroeër gekyk daarna om die seisoen op 28 Mei te laat begin.”

Harmer sê dit is egter onderhewig aan wat die Britse regering besluit en dat die situasie deurentyd hersien word.

Harmer, kaptein van Essex in die eendagreeks, het ’n groot rol gespeel in die graafskap se verowering van die titels in die meerdag- sowel as die T20-reeks in Engeland.

Dit was sy tweede meerdagtitel in sy drie seisoene by Essex.

Essex het nege van sy 14 meerdagstryde gewen en Harmer se 83 paaltjies was die meeste in die reeks.

Essex het nege van sy 14 meerdagstryde gewen en Harmer se 83 paaltjies was die meeste in die reeks.

Hy het in die laaste meerdagwedstryd met 5/105 die tiende keer in 2019 ’n vyftal aan paaltjies behaal.

Harmer is ná die seisoen ook as Meerdagspeler van die Jaar aangewys.

Hy was die Speler van die Wedstryd in die T20-eindstryd teen Worcestershire.

Harmer is ná die seisoen boonop deur Engeland se Spelersvereniging (PCA) as die waardevolste speler van die seisoen vereer en sy kontrak is tot 2022 verleng.

Meer oor:  Simon Harmer  |  Pat Cummins  |  Marnus Labuschagne  |  Essex  |  Engeland  |  Graafskapkrieket  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.