Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA kolwers gee weer boedel oor teen Aussies

Wanneer Quinton de Kock die dag nie lopies kry nie, gaan dit maar broekskeur met die Suid-Afrikaanse T20-krieketspan.

Dit was wéér duidelik toe die Proteas Woensdagaand op Nuweland hul derde reeks van die plaaslike somer verloor het.

Quinton de Kock op pad kleedkamer toe nadat hy sy paaltjie ingeboet het in die derde T20-wedstryd teen Australië. Foto: Jaco Marais

Australië het die derde T20-stryd lag-lag met 97 lopies beklink. Dit het aan hulle ’n reekssege met 2-1 besorg.

Suid-Afrika het vroeër vanjaar ook ’n toets- en T20-reeks teen Engeland verloor.

Die Proteas is die taak gestel om 194 lopies vir die oorwinning aan te teken, maar met die verlies van De Kock se paaltjie van slegs die vierde bal van Suid-Afrika se kolfbeurt, het die meeste toeskouers se moed gesak.

Die kaptein is nie net sy span se beste kolwer nie, maar hy is ook die een speler wat deur die teenstanders gevrees word.

Die Proteas is toe vir ’n skamele 96 uitgeboender. Die draaibalbouler Ashton Agar (3/16) het die meeste skade aangerig.

Rassie van der Dussen (24) en Heinrich Klaasen (22) het 34 lopies om die derde paaltjie gevoeg, maar dit was die enigste Protea-vennootskap wat enige werklike weerstand gebied het.

Dié armsalige kolfvertoning was teleurstellend as mens die goeie veggees van die boulers in ag neem.

Australië, wat gevra is om eerste te kolf, het soos ’n straler weggetrek en 114 lopies in die eerste 10 boulbeurte gemoker.

Die Proteas kon baie maklik boedel oorgegee het, met ’n teiken van meer as 230 hul voorland.

Maar die boulers het kopgehou en teruggeveg met die linksdraaier Tabraiz Shamsi (1/24) aan die spits. Australië het met 193/5 geëindig.

Daar is slegs 79 lopies van die laaste 10 beurte af aangeteken. Dit het 20 lopies van Anrich Nortjé se vierde boulbeurt (die 20ste boulbeurt) ingesluit.

Australië se aanvangskolwers, Aaron Finch en David Warner, het net soos in die tweede wedstryd in Port Elizabeth, die tuisspan se boulers onder groot druk geplaas. Suid-Afrika het in albei wedstryde gewys dat die res van die Aussie-kolflys nie te veel probleme vir hulle skep nie.

Daar moet bygesê word dat dit eerder goeie kolfwerk in die eerste 10 beurte was as swak boulwerk.

Finch (55 van 37 balle; 6x4, 1x6) en Warner (57 van 37 b; 5x4, 2x6) het 120 lopies om die eerste paaltjie van net 69 balle geslaan.

Die Aussies het 75 lopies in die kragspel gemoker.

TELKAART

* Die Suid-Afrikaanse toetsdraaier Keshav Maharaj gaan vir die eerste keer sedert 2018 weer in die eendag-formaat sy slag vir die Proteas wys.

Dié linksdraaier, wat die laaste ruk vir die Dolphins uitblink in die plaaslike eendagreeks, is in ’n groep van 15 spelers ingesluit vir die drie kitsstryde teen Australië, wat Saterdag in die Paarl begin.

Die Protea-eendaggroep is: Quinton de Kock (kaptein en paaltjiewagter), Temba Bavuma, David Miller, Kagiso Rabada, Andile Phehlukwayo, Tabraiz Shamsi, Lungi Ngidi, Beuran Hendricks, Heinrich Klaasen, Janneman Malan, Jon-Jon Smuts, Anrich Nortjé, Lutho Sipamla, Keshav Maharaj, Kyle Verreynne.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Krieket  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.