Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
ABsolute terugslag vir Proteas

Om ’n Wêreldbeker-kriekettoernooi met ’n legende in jou span te wen, is reeds moeilik genoeg. Haal daardie legende, AB de Villiers, uit die elftal en die Proteas se kans om volgende jaar in Engeland as die beste span in die wêreld gekroon te word, lyk drasties skraler.

Nog 'n groot beurt vir AB de Villiers. Hy lig sy kolf in 'n eendagwedstryd teen Engeland op Nuweland in 2016. Foto: Gallo Images

De Villiers het die krieketlandskap Woensdag met ’n skokgranaat getref – ná ’n roemryke loopbaan van 14 jaar is hy klaar met internasionale krieket.

Die feit dat hy dié aankondiging ’n jaar voor die Wêreldbeker-toernooi gemaak het, terwyl sy spelpeil steeds uitstekend is, het meeste krieketkenners en -liefhebbers onkant betrap.

Ray Jennings, wat die Protea-breier was toe De Villiers sy toetsbuiging in 2004 gemaak het, sê De Villiers is die kreatiefste kolwer wat hy nóg gesien het.

“Dis ’n groot terugslag vir ons dat hy nou nie meer in die Wêreldbeker-toernooi gaan speel nie. Ek sê altyd as AB de Villiers die dag lopies kry, wen ons. En dis nie net omdat hy lopies kry nie, hy teken dit gewoonlik baie vinnig aan,” sê Jennings.

Dr. Ali Bacher, ’n voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein, glo De Villiers het oplaas besef sy liggaam en gees is uitgeput.

“Sy groot dryfveer was om nog aanstaande jaar in die Wêreldbeker te speel. Hy wou die Wêreldbeker wen, maar sy liggaam en gees het net gesê genoeg is genoeg,” sê Bacher.

“Die tyd het nou aangebreek dat hy die feite in die gesig staar. Hy kon nie meer voortgaan nie. Ons almal sal hom geweldig mis en al wat ons as die krieketpubliek van Suid-Afrika vir AB kan sê, is: Baie dankie vir die wonderlike herinneringe, as een van die heel grootstes wat nog hierdie spel gespeel het,” sê hy.

De Villiers het in drie Wêreldbeker-toernooie – in 2007, 2011 en 2015 – vir die Proteas gespeel.

Hy wou die Wêreldbeker wen, maar sy liggaam en gees het net gesê genoeg is genoeg.
Ali Bacher

Dat hy nie ’n vierde by daardie lys gaan voeg nie, is vir Robin Peterson, ’n oud-spanmaat, teleurstellend.

“Dit is ’n reuse-terugslag vir Suid-Afrika. Hy gaan ’n groot leemte in die middelorde laat en dit gaan beslis moeiliker wees om wedstryde sonder hom te wen,” sê Peterson.

“Dit was nogal ’n groot verrassing, veral nadat hy verlede jaar gerus het om vars te wees vir die Wêreldbeker-toernooi. Maar miskien is die WB-toernooi nie meer só belangrik vir hom nie,” sê Peterson.

Herschelle Gibbs, wat soos De Villiers ’n uitmuntende eendagspeler was, sê sy uittrede is uiteraard ’n groot verlies.

“Hy is so ’n oorheersende speler in eendagkrieket. Daar is nou ’n jaar om een of twee ander spelers in sy plek te speen,” sê Gibbs.

Ek sê altyd as AB de Villiers die dag lopies kry, wen ons.
Ray Jennings

Russell Domingo, wat die Proteas tussen 2011 en 2017 gebrei het, sê jy wil altyd ’n AB de Villiers in jou span hê.

“Hy gaan dus ’n groot leemte laat, maar spelers soos Aiden Markram, Heinrich Klaasen en Farhaan Behardien kan nou ’n kans kry by die Wêreldbeker,” sê Domingo.

Boeta Dippenaar, wat ook saam met De Villiers gespeel het, sê hy glo dié kolwer sou die Proteas kon help om die toernooi te wen.

“Met hom in die span sou ons beslis ’n kans gestaan het, maar daar is ook ander faktore wat bepaal of ’n span die Wêreldbeker kan wen,” sê Dippenaar.

Eric Simons, ’n voormalige Protea-breier en -snelbouler, glo egter nie alle hoop is nou verlore nie.

“AB se uittrede beteken nie noodwendig die Proteas kan nie die Wêreldbeker wen nie, maar dit is beslis ’n reuse-terugslag wat hul kanse betref en dit is beslis nie goed vir hul veldtog nie. Ek is seker daar is verskeie teenstanders wat baie bly sal wees dat hulle nie teen AB te staan gaan kom nie,” sê Simons. – Verslagspan: Altus Momberg, Johann de Jager, Christo Buchner, Tinus van Staden, Marnus Kok

In syfers
Toetse
Wedstryde: 114
Lopies: 8 765
Gemiddelde: 50.66
Treftempo: 54.51
Hoogste telling: 278*
100-talle: 22
50-talle: 46
Vangskote: 222
Stonkkanse: 5

Eendagwedstryde
Wedstryde: 228
Lopies: 9 577
Gemiddelde: 53.50
Treftempo: 101.09
Hoogste telling: 176
100-talle: 25
50-talle: 53
Vangskote: 176
Stonkkanse: 5

T20-wedstryde
Wedstryde: 78
Lopies: 1 672
Gemiddelde: 26.12
Treftempo: 135.16
Hoogste telling: 79*
100-talle: 0
50-talle: 10
Vangskote: 65
Stonkkanse: 7


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.