Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA krieket het óók Rassies, sê AB

Daar is heelwat Rassie Erasmusse wat rondloop in Suid-Afrikaanse krieket.

Hulle moet net benut word, glo AB de Villiers.

Dié gewese sterkolwer van Suid-Afrikaanse krieket voel Mark Boucher, Jacques Kallis en Graeme Smith kan vir Suid-Afrikaanse krieket beteken wat Erasmus vir Springbok-rugby gedoen het oor die afgelope 18 maande.

AB de Villiers het Dinsdag sy mening oor Suid-Afrikaanse krieket gegee. Foto: Getty Images

“Onthou net, so drie vier jaar gelede was die Springbokke op dieselfde vlak as wat die Proteas nou is. Hulle is so onlangs as twee jaar gelede nie ’n kat se kans gegee om die Wêreldbeker te wen nie. Wys jou net hoe vinnig dinge kan verander as jy die regte mense aan die stuur het,” het De Villiers Dinsdag by SuperSportpark in Centurion gesê.

Hy maak sy terugkeer tot Suid-Afrikaanse krieket in die Mzansi-superliga (MSL) se T20-reeks en speel vir die Tshwane Spartans.

Kan hyself ’n Rassie wees vir Suid-Afrikaanse krieket?

“Ek sal baie graag wil. Ek het vir Enoch (Nkwe, die afrigter) gesê my foon is die heeltyd aan en hy kan my net bel en ek sal wil help waar ek kan,” sê De Villiers.

“Ek voel Enoch moet beslis Bouchie, Kallis en Graeme kan benut en daar is nog ouens soos hulle wat vir ons krieket kan doen wat Rassie vir rugby gedoen het.

Wat die Springbokke in die Wêreldbeker reggekry het, moet as inspirasie dien vir die Proteas.
AB de Villiers

“Die spelers is ook daar wat sukses vir die land kan verseker. Daar het wel heelwat ervaring verlore gegaan die afgelope jaar of twee, maar daar is steeds genoeg goeie spelers om sake reg te ruk.

“Wat die Springbokke in die Wêreldbeker reggekry het, moet as inspirasie dien vir die Proteas. Ek het verlede week met Faf (du Plessis, die kaptein) gesels en ons voel albei die talent is daar om baie beter te vaar as wat nou die geval is. Dinge moet net soos ’n legkaart in hul plek val. Daar is nie werklik ’n reg of verkeerd in krieket nie. Dit gaan oor die ingesteldheid,” sê hy.

Nadat De Villiers volgens sy hoë standaarde geen goeie MSL gehad het verlede jaar nie, is hy oorgehaal om te vergoed en Suid-Afrikaanse toeskouers weer te herinner waarom hy in sy fleur as een van die wêreld se heel beste kolwers beskou is.

“Ek voel baie vars. Ek het die laaste twee weke so ’n bietjie daar by Tuks gekolf en ek voel ek slaan die bal goed. Ek wil regtig ’n verskil hier by die Spartans maak.

“Ons het ’n sterk groep vanjaar en met ouens soos Morné (Morkel) Heinrich (Klaasen), Dean (Elgar), Roelof (van der Merwe), Theunis (de Bruyn) en Lungi (Ngidi) hier, voel dit soos ’n reünie van die Titans. Daar is baie plaaslike spelers hier beskikbaar en dit bied samehorigheid.

“Ons is goed gedek in alle aspekte van die spel en in die geheel is die groep sterker as verlede jaar. Dit is ook goed om Heinrich weer as kaptein te hê,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.