Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA krieket is ’n siek spul, sê Symcox

Terwyl daar in die meeste kringe groot optimisme is oor die aanstelling van bewese krieketlui soos Jacques Faul en Dave Richardson om Krieket Suid-Afrika (KSA) reg te ruk, het Pat Symcox Sondag kaalvuis ingeklim om sy misnoeë oor die stand van sake in Suid-Afrikaanse krieket duidelik te maak.

Jacques Faul en Dave Richardson op Saterdag se nuuskonferensie in Johannesburg. Foto: Gallo Images

In talle krieketkringe word gemeen dat daar nou lig aan die einde van ’n donker tonnel is met die aanstelling van Faul as die waarnemende uitvoerende hoof in die plek van die geskorste Thabang Moroe, met Dave Richardson, eertydse uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad (IKR), om hom by te staan. Symcox meen egter daardie lig is eerder dié van ’n aankomende trein.

Dié eertydse draaier van die nasionale span het eerder soos ’n snelbouler geklink wat die een kartets ná die ander afstuur.

Symcox meen daar moet behoorlik skoongemaak word in Suid-Afrikaanse krieket.

“Ek dink dit is eintlik ’n bietjie van ’n dom besluit deur Jacques en Graeme Smith (wat moontlik as direkteur van krieket aangestel sal word) om betrokke te wil raak by die huidige opset. Dit is alles ’n strategie van die uitvoerende raad om hulself meer kredietwaardigheid te probeer gee.

“In hierdie geval is dit omtrent soos om die dekstoele op die Titanic rond te skuif. Gaan Jacques Faul, Dave Richardson en Graeme Smith die gesag hê om hul eie besluite te neem? Ek dink beslis nie so nie, want die raad gaan nog oor hulle hang en hulle sal na hul pype moet dans, glo ek.

“Daarom glo ek dit is baie dom van Faul en Smith om hierdie poste te aanvaar. Sou hulle toegelaat word om hul eie mens te wees en hul eie stempel af te druk, sou ek sê ja, maar ek glo die raad sal steeds die kitaar wil slaan. Al wat ek dink hulle nou doen, is om geloofwaardigheid te gee aan hierdie proses wat deurspek is van nuttelose mense (die KSA-raad).

“Die raad moet waarde kan toevoeg in die proses, maar daardie klomp narre kan nie eens die kafee op die hoek bestuur nie.

“Hulle het ook die vermetelheid om te wil aangaan asof niks gebeur het nie en hulle heeltemal onskuldig is in die hele proses. Dit is ’n siek situasie,” sê Symcox.

Jy het nie net krieketmense nodig nie, maar ook diegene wat ’n onderneming kan bestuur.

“Jy het nie net krieketmense nodig nie, maar ook diegene wat ’n onderneming kan bestuur. In daardie geval moet hulle kyk na mense soos Dave Rundle, Brian McMillan en myself wat weet hoe om ’n sakeonderneming te bestuur.

“Ek voel sterk daaroor dat die spelers standpunt moet inneem en weier om deel te hê aan die Engelse toer. Daardie toer moet geboikot word. Dit is nou ’n waterskeidingtydperk vir Suid-Afrikaanse krieket en al die vrot appels moet verwyder word.

“Die probleem is dat daar soveel partye is wat net stilbly omdat hulle op ’n manier verbind is tot KSA.

“Hoekom is daar geen geluid van SuperSport nie? Hulle is bang om iets te sê, want hulle het ’n kontrak met KSA. Waarom is Shaun Pollock so stil en wil hy nie sê hoe hy regtig voel nie?

Daar is ’n gesegde dat wanneer goeie mense stilbly, loop dinge skeef.

“Daar is ’n gesegde dat wanneer goeie mense stilbly, loop dinge skeef,” sê Symcox.

Hugh Page, ook ’n voormalige nasionale speler en ook ’n eertydse keurder, verskil egter van Symcox se siening oor Faul en Smith se betrokkenheid.

“Dit is ’n stap in die regte rigting dat daar weer krieketmense betrokke is,” het hy getwiet.

“Albei is gerespekteerde krieketmense en sterk karakters en sal ’n groot invloed hê. Hulle sal nie inmenging duld nie. Ek glo dit is ’n stap in die regte rigting. Dit kan die begin van die herlewing wees.”

Dr. Ali Bacher, ’n voormalige grootbaas van Suid-Afrikaanse krieket, het Faul se aanstelling as waarnemende uitvoerende hoof geloof.

“Ek ken hom goed en hy is ’n uitstekende, kredietwaardige krieketadministrateur. Ek het die grootste respek vir hom,” het Bacher gesê.

Meer oor:  Ksa  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Pat Symcox  |  Jacques Faul  |  Dave Richardson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.