Suné Luus, waarnemende kaptein, het Dinsdag in Durban in die derde en laaste wedstryd teen Pakistan haar 100ste paaltjie in eendagkrieket ingeoes en die Suid-Afrikaanse vroue het met 3-0 skoonskip in die reeks gemaak.

Suné Luus het Dinsdag haar 100ste paaltjie in eendagkrieket ingeoes. Foto: Gallo Images
Die bybreker kon nie enige paaltjie in die eerste twee wedstryde laat kantel nie, maar was Dinsdag saam met Shabnim Ismail en aan die einde Ayabonga Khaka die Proteas se boulhelde met drie paaltjies elk.
Die gasheer is die derde agtereenvolgende keer ingestuur om te kolf en dit het met sy skamele 201 ná ’n tamaai kolfineenstorting nie gelyk of hy die laaste wedstryd ook gaan wen nie.
Luus-hulle het toe Pakistan vir net 169 uitgeknikker om met 32 lopies hul oortuigendste sege van die reeks te behaal.
Ismail (3/22) het Pakistan vroeg onder druk geplaas met paaltjies in haar tweede en derde boulbeurt. Die aanvangsbouler is as die Speler van die Wedstryd en Speler van die Reeks aangewys.
Luus (3/35) het toe ’n dreigende vennootskap om die derde paaltjie tussen Javeria Khan (33) en Kainat Imtiaz (16) verbreek. Sy het later met die paaltjie van die Pakistanse kaptein, Khan, wat sy van haar eie boulwerk uitgevang het, haar mylpaal behaal.
Luus (25), in haar 82ste wedstryd, is ná Ismail (143), Dané van Niekerk (130) en Marizanne Kapp (126) die vierde SA bouler om dit te vermag.
Die veelsydige Kapp is Dinsdag saam met die ervare Mignon du Preez ruskans vir die laaste wedstryd gegee wat Suid-Afrika se middelorde kwaai blootgestel het.
Die aanvangskolwers Lizelle Lee (49) en Laura Wolvaardt (58) het vroeër die tuisspan ’n goeie grondslag gegee, maar hy het tot eensklaps van 124/1 tot 132/5 gesteier.
Die aanvangsbouler Diana Baig het die ineenstorting ingelui met twee paaltjies in die 28ste beurt en met 4/30 haar beste boulsyfers nog behaal.
Die ervare Trisha Chetty het met 34 aan die einde gehelp dat Suid-Afrika by 200 uitkom.
TELKAART