Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA op rand van vernedering, al veg Faf

Dag vier, derde toets, Port Elizabeth:

Engeland, 1ste beurt, 499/9.

Suid-Afrika, 1ste beurt, 209; 2de beurt, 102/6, agterstand van 188 (Faf du Plessis 36).

Vanuit die Protea-kleedkamer in die Graeme Pollock-paviljoen het Faf du Plessis Sondagoggend 25 minute van hel op St. Georgepark se kolfblad sien ontvou. Dít in ’n toets wat baie glo sy voorlaaste, of selfs laaste, kan wees.

28 aflewerings. Vier paaltjies. Een lopie.

Faf du Plessis koes vir ’n opslagbal. Foto: AP

Suid-Afrika se kaptein moes aanskou hoe die Engelse naatbouler Stuart Broad sy span met ’n skof van 3/0 in ’n bewolkte Port Elizabeth soos sirkusnarre laat lyk.

Die Barmy Army het skaars die laaste lirieke van die lied “Jerusalem” gesing, soos wat hulle ná elke eerste aflewering van ’n dag se spel of ’n nuwe kolfbeurt doen, toe ruk Broad Vernon Philander (27) se wegpen uit die grond met ’n skitterbal wat van die naat af inbeweeg het.

Sam Curran het Quinton de Kock (63) se verdediging in die volgende beurt met ’n bra gemiddelde aflewering geklop en Du Plessis moes sy beste kolwer se paaltjies in alle rigtings sien span.

Hy moes kyk hoe Keshav Maharaj (0) die durf van ’n muis wys en ’n bal van Broad op sy eie paaltjies trek.

Du Plessis moes aanskou hoe Kagiso Rabada (1) ’n Broad-aflewering sagkens vir Mark Wood op halfby slaan.

Om 10:00, begintyd, sou Du Plessis hoop vir ’n rustige tydjie om die boek waarmee hy Saterdag besig was, The Infinite Game van Simon Sinek, verder te lees voordat hy weer moet veldwerk doen. Teen 10:30 was die Barmy Army besig met hul tweede uitvoering van “Jerusalem” vir die dag – weer ná ’n Broad-aflewering nadat Joe Root die Proteas gevra het om op te volg.

Du Plessis is nou die Protea-kaptein wat in drie van sy span se laaste vyf toetse gevra is om op te volg. In 100 toetse voor dit, het Suid-Afrika nie een keer opgevolg nie.

Die laaste keer dat die Proteas tuis opgevolg het, was in die 2001/’02-seisoen teen Australië.

Die reën wat teen 11:05 soos genadewater begin uitsak het, sou ’n sug van verligting uit Du Plessis dwing.

Du Plessis, wat die afgelope week lyk of hy tien jaar ouer geword het, kon sy troepe ná ’n chaotiese oggend net weer rustig probeer kry, weer gefokus. Dit was vergeefs.

Dean Elgar se bypen maak bollemakiesie. Foto: Reuters

Spel het om 14:10 hervat en Du Plessis moes toekyk hoe Dean Elgar (15) se wegpen deur Mark Wood verbrysel word, hoe dié sneltrein vir Zubayr Hamza (2) eers met opslagballe vreesbevange maak en hom dan sag uitkry met ’n randjie aan die bykant.

Hamza het teruggestap en Du Plessis middel toe nadat sy sukkelende kolflys se gebreke soos ’n riller voor hom ontbloot is.

Met die wete dat sy laaste agt toetsbeurte tellings van 8, 19, 1, 20, 29, 4, 1 en 5 opgelewer het. Dat Temba Bavuma die week 180 lopies geslaan het, dat daar op sosiale media geëis word dat Bavuma sy plek inneem.

Du Plessis het middel toe gestap met druk wat hom kan verswelg. Met sy toekoms in die span onseker.

In die middel het hy Pieter Malan (12), Rassie van der Dussen (10) en Quinton de Kock (3) almal sien val teen die onwaarskynlike draaiballe van Joe Root (4/26 in 18 boulbeurte). Hy het geveg om staande te bly.

’n Ses van Dom Bess (0/17 in 18 boulbeurte) se boulwerk wat verby diepby die paviljoen ingevlieg het, het die PE-orkes hul waardering vir die kaptein laat betuig: “Faffie, jou lekker ding! Faffie, jou lekker ding!”

Waardering wat hy verdien vir alles wat hy al vir Suid-Afrika gedoen het, al lyk sake tans droewig vir hom en die span.

Hy het vir 123 aflewerings druk probeer absorbeer – die meeste balle wat hy in 16 beurte trotseer het. Hy het sy paaltjie tien beurte voor die uitskeityd aan Root afgestaan, vir 36, sy beste telling in nege beurte. Du Plessis het leeg gelyk terwyl hy van die veld gestap het. Hy het nog niks aangekondig nie, maar hy het nie na ’n man gelyk wat in Julie twee wegtoetse teen die Windies wil gaan speel nie.

Net die reën, wat voorspel word vir Maandag, kan Vernon Philander (13*), Keshav Maharaj (5*) en die stert help om hul span van ’n vernederende nederlaag red, al verdien Suid-Afrika om te verloor.

Du Plessis weet dit. Hy sal nietemin bid vir reën, sodat hy op die Wanderers die kans kan kry om een laaste toetsreeks vir sy land te probeer wen.

TELKAART

Meer oor:  Port Elizabeth  |  St. Georgepark  |  Engeland  |  Faf Du Plessis  |  Toetsreeks  |  Toetskrieket  |  Kriekettoer  |  Kriekettoets  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.