Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA se Indiese kolfghoeroe gaan bontstaan

Aiden Markram en Zubayr Hamza, twee van die Protea-toetskolwers, kon nie daarin slaag om die nasionale span se nuwe kolfghoeroe Maandag in Thiruvananthapuram, Indië, te beïndruk nadat hy hulle onder hande gehad het nie.

Aiden Markram se voorbereiding vir die komende toetsreeks teen Indië het op ’n lae noot begin. Foto: Gallo Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Maandag aangekondig dat Amol Muzumdar, voormalige eersterangse speler in Indië, Suid-Afrika in die komende toetsreeks teen die Indiërs as waarnemende kolfafrigter gaan bystaan. Hy het met die onlangse draaierkamp in Indië reeds geleentheid gehad om met Markram-hulle te werk.

Markram en Hamza is twee van vyf spelers in die Proteas se toetsgroep wat vandeesweek vir Suid-Afrika A in die eerste van twee vierdagwedstryde teen Indië se naasbestes speel.

Die SA A-span se erkende kolwers het Maandag op die eerste dag kwaai kleigetrap. Die toerspan is vir net 164 in sy eerste beurt uitgeknikker nadat hy ingestuur is om te kolf.

Markram en sy aanvangsmaat Pieter Malan is uit vir nulletjies.

Hamza (13) het weliswaar vir 30 aflewerings vasgeskop, maar toe die aanvangsbouler Shardul Thakur (3/29) vir Heinrich Klaasen ook vir ’n nulletjie uithaal, was die toerspan op 22/5 kniediep in die knyp.

Dit was net ná middagete 70/7, voordat die eindkolwers effense aansien aan die totaal gegee het.

Indië se draaiers Krishnappa Gowtham (3/64) en Shahbaz Nadeem (2/37) het saam vyf paaltjies laat kantel nadat Thakur die meeste van die vroeë skade aangerig het.

Die 19-jarige Marco Jansen het sy onoorwonne 45 lopies op nommer nege met Suid-Afrika se eerste paaltjie opgevolg.

Amol Muzumdar. Foto: KSA

Die tuisspan het met uitskeityd tot op 129/2 gevorder.

Theunis de Bruyn en Vernon Philander sal vir die tweede vierdagwedstryd beskikbaar wees.

KSA sê in ’n verklaring hy het dit goedgedink om Muzumdar in die Proteas se komende toetsreeks te betrek omdat hy goed met speeltoestande in Indië vertroud is.

Corrie van Zyl, KSA se waarnemende direkteur van krieket, sê Muzumdar is danksy sy kennis van Indiese toestande die volmaakte keuse.

“Hy het met die draaierskamp wat ons onlangs daar gehad het reeds ’n goeie werksverhouding met Markram, Temba Bavuma en Hamza opgebou.”

Muzumdar (44) het in sy eersterangse loopbaan oor 20 jaar 11 167 lopies opgestapel, wat 30 100-talle en 60 50-talle ingesluit het. Hy spog met afrigtingsertifikate van Indië, Australië en Engeland. Hy was die Rajasthan Royals se kolfafrigter in die Indiese Premierliga en hy het Indië se o.19- en o.23-spanne afgerig. Hy was ook Nederland se kolfafrigter.

Meer oor:  Indië A  |  Proteas  |  Sa A-Krieketspan  |  Kolfafrigter  |  Amol Muzumdar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.